Ná ‘n berig oor die gevare van Wilcocksweg in die noorde van Bloemfontein waaroor VF Plus-raadslid Elizabeth Snyman-Van Deventer al jare waarsku, het die Mangaung-metro uiteindelik kennis geneem.
BloemNuus het op 11 September geskryf oor inwoners wat pleit dat iets gedoen word aan Wilcocksweg waar motoriste teen hoë snelhede ry en ongelukke gereeld plaasvind.
Gregory Nthatisi, uitvoerende burgemeester, het Vrydag 12 September saam met amptenare Snyman-Van Deventer ter plaatse ontmoet en het onderneem om dringend aandag te skenk aan die lewensgevaarlike Wilcocksweg.

Dié onderneming kom ná die VF Plus daarop aangedring het dat hy self die pad besoek ná die jongste noodlottige tref-en-trap-ongeluk op Donderdag 28 Augustus waarin ‘n man gesterf het.
Die VF Plus waarsku die metro reeds sedert 2022 oor die lewensgevaarlike toestand van Wilcocksweg, maar alle pleidooie het op dowe ore geval. Een van vele voorbeelde is op 5 Junie 2023 waar nege mans van die agterkant van ‘n bakkie gegooi is toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.

Nou, ná die soveelste ongeluk, het die burgemeester toegegee dat daar dringende ingryping nodig is.
Snyman-Van Deventer sê hulle is versigtig optimisties dat die metro ná jare se versuim om op te tree, uiteindelik volhoubare oplossings beplan om verdere onnodige lewensverlies te voorkom.
“Die burgemeester het gereël dat die stromwaterafvoerpype skoongemaak word, dat die bome gesnoei word en dat die strepe op die paaie geverf word.”
Sy sê ‘n beplanningsvergadering gaan gehou word om spoedkameras op te rig en om te kyk of daar geld is om ‘n verkeersirkel op die kruising van Wilcocks en Gladstoneweg op te rig.
“Die VF Plus sal die situasie monitor en toesien dat die burgemeester se ondernemings nie net by lippetaal bly nie, maar dat tasbare resultate gelewer word,” sê sy.





You must be logged in to post a comment.