BLOEMONTEIN. Een verdagte is deur die Parkweg-polisie in hegtenis geneem in die ondersoek na die moord op 75-jarige afgetrede regimentsersantmajoor (RSM) Albertus Opperman wat in sy huis in Pellissier vermoor is.
Die deurbraak kom ná ‘n intensiewe ondersoek deur die polisie waarin Moeketsi John Mosiou (39), in hegtenis geneem is. Hy het reeds in die Bloemfoneins-landdroshof verskyn en sal Vrydag 26 September om borgtog aansoek doen.
Die polisie soek steeds na nog verdagtes wat met die moord op Opperman verbind word.
Die moord is vermoedelik tussen 07:20 en 08:30 op Vrydag 12 September gepleeg toe Opperman alleen by die huis was.
Met die aankoms van die huiswerker dié oggend, het sy twee onbekende mans in die huis in Siembambastraat 17 gevind. Hulle het gevlug toe hulle haar sien en sy het hulp by die bure ontbied.
Die bure het ‘n veiligheidsonderneming en die polisie in kennis gestel. Met hul aankoms, is die lyk van Opperman gevind. Hy is met ‘n mes in die bors gesteek en is op die toneel dood verklaar.
Sers. Mahlomola Kareli, woordvoerder van die polisie vra mense met inliging om die speurder wat die saak ondersoek, speurder-sersant Teboho Mokhobo by 072 669 1405 of skakel die SAPD Crime Stop nommer 08600 10111.





