Maj.-genl. Arthur Adams Maandag voor die Vrystaatse hooggeregshof. FOTO: Lientjie Mentz

Twee mense het op Maandag 1 September in die Vrystaatse hooggeregshof verskyn op aanklag van moord op Andries Mqoqi, eienaar van die Kofifi-taferne en voormalige uitvoerende hoof van Mangaung se elektrisiteitsverpreider, Centlec.

Mqoqi is op 16 Februarie 2024 voor sy onderneming doodgeskiet. Sedert die gebeure het die polisie onverpoos na die verdagtes gesoek. Die twee verdagtes Nkwebe Seatile en Tlotlisang Monyane het in die hof verskyn waarna die saak uitgestel is hangende verdere ontwikkeling daarvan.


‘n Derde verdagte (41) is op Vrydag 29 Augustus in Lesotho in hegtenis geneem en moet nou volgens ‘n uitleweringsbevel tussen Lesotho en Suid-Afrika, aan Suid-Afrika uitgelewer word.
Die distrikskommisaris van die Mangaung-metro, maj genl. Arthur Adams het Maandag se hofprosedure bygewoon en het die ondersoekspan, gelei deur kapt. Jacues Wilson, ondersteun.
Adams sê die verdagtes wat reeds in hegtenis geneem is, word net beskou as pionne wat die daad uitgevoer het. 

Hy sê hulle word ook ondersoek vir ander sake.

Maj. genl. Arthur Adams gesels oor die saak waarin drie verdagtes in hegtenis geneem is en op 19 September in die hof gaan verskyn op aanklag van moord op voormalige uitvoerende hoof van Mangaung se elektrisiteitsverpreider, Centlec, Andries Mqoqi.

“Die ondersoek duur voort om die persoon of persone wat opdrag gegee het dat hierdie brutale moord gepleeg word, in hegtenis geneem word. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat ons sal kan rapporteer dat nog vordering gemaak word,” het hy voor die hof gesê.

Die hofsaak is tot 19 September uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article