Leon Mentz (links) en Robert Ebersohn met die model van Grey-kollege se Andrew Murray-huis voor die veiling. Foto’s: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN. Die drie Lego-geboue en Lego-skild wat spesiaal vir ‘n veiling ten bate van Grey-kollege se rugby-program Tommix gebou is, het net onder R600 000 gehaal.

Die Lego-modelle van die skool se hoofgebou, ‘n model van Andrew Murray-huis (Brill-huis lyk presies dieselfde) en ‘n model van die skool se bekende Tuck Shop, asook ‘n skoolwapen, is gebou vir die veiling op die manne-aand van 14 Augustus by die skool. Dit was enkele van 20 stukke wat opgeveil is om geld vir die rugbyprogram in te samel.

Die Lego-model van die hoofgebou voor Grey-kollege se hoofgebou. FOTO: Piece Together

Robert Ebersohn van Tommix en self ‘n onderwyser en afrigter by Greyl, sê die gedagte aan die geboue van Lego het ontstaan terwyl hy saam met sy kinders blokkies gebou het.

Leon Mentz van Piece Together wat Lego verkoop, en wat ook verbonde is aan Grey se musiek-afdeling, het dié reuse-projek onderneem. Hy en sy vrou, Charlotte, het sowat 150 uur, uitgesprei oor vier maande, geneem om die drie modelle en die skild te bou.

Die Mentz-egpaar verkoop Saterdae Lego op die Langenhovenmark. Hulle het ‘n groot passie vir dié blokkies, wat al sedert 1934 gemaak word en steeds uiters gewild is.

Die geboue wys net weer hoeveel ‘n mens met Lego-blokkies kan bou.

“Lego is een van die tien topversamelaarsartikels in die wêreld,” verduidelik Ebersohn.

Die model van die Tuck Shop.

“Die geboue wat Leon-hulle met die blokkies gebou het, is gedenkwaardige geboue op die skoolterrein en almal is ouer as 100 jaar. Geslagte van dieselfde familie het hier skoolgegaan en het mooi herinneringe aan hul tyd as leerlinge by Grey. Nie net het die kopers nou ‘n unieke aandenking van die skool nie, maar kinders sal dit nog vir geslagte kan oorbou.”

Die geskiedkundige Tuck Shop.

Hy sê die skild is vir R40 000 aan IQ Tech verkoop. Roelof van den Berg van GIC het die modelle van Murray-huis en die Tuck Shop vir onderskeidelik R110 000 en R120 000 gekoop.

Die model van die hoofgebou is deur Peiter Ernst vir R310 000 gekoop.

“Dit kos elke jaar baie geld om die rugbyspanne aan interskole te laat deelneem,” sê Ebersohn oor die aanbied van die manne-aand.

Die skild en die drie geboutjies wat op die veiling verkoop is. FOTO: Piece Together

“Grey se eerste spanne neem oor die land heen aan interskole-kragmetings deel, en dit kos sowat R20 000 per kind per jaar. Grey bied tussen vier en ses beurse per jaar aan om aan belowende spelers die geleentheid te gee om vir Grey deel te neem.”

Hy sê nog een van die groot uitdagings is goeie rugby-afrigters.

“Sonder die ondersteuning van ons borge en ondersteuners, sal die skool nie soveel vir sy leerlinge kan bied nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article