Dit is moontlik dat litiumbatterye van sonkragstelsels ‘n rol gespeel het in die oorsaak van twee huisbrande in onderskeidelik Bayswater op Maandag 7 Julie en in Fichardtpark die dag daarna.
Dié is twee van talle voorvalle van huisbrande en grasbrande die afgelope week in Bloemfontein.
Die huis in Bayswater was in Batavierstraat.
Die eienaar van Sentoza Lodge op die hoek van Welthagen- en Van Selmstraat in Fichardtpark, Albert de Klerk, sê hulle het groot skade gely. Hy sê die sonkragstelsel wat hulle in Desember laat aanbring het, het Dinsdag ontplof.
In ‘n ander voorval is ‘n seun (15) Donderdag op dramatiese wyse deur lede van die brandweer uit ‘n brandende woonstel in Cromwellweg, Navalsig, gered.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro se brand-en-reddingsdienste sê hulle het om 10:21 ‘n oproep gekry en was binne sewe minute op die toneel.
Die seun is vermoedelik deur rook oorval terwyl hy in ‘n slaapkamer op die tweede verdieping van die woonstel geskuil het. Brandweerpersoneel moes hul pad tot by hom oop veg voordat hulle hom na veiligheid kon bring.
Niemand het ernstig seergekry nie, maar die seun en sy ma moes behandeling vir rookinaseming in die hospitaal ontvang.

‘n Gesin van Pellissier wie se huis in Koringblomsingel groot brandskade gely het, was op Woensdag 2 Julie tuis toe hulle die aand twee ontploffings uit die rigting van die motorhuis hoor.
Hulle het gaan ondersoek instel en afgekom op die motorhuis met twee motors daarin wat erg brand. Hulle en bure het probeer om die vlamme, wat na die sitkamer en die kombuis versprei het, te blus toe die brandweer daar opdaag. Twee motors, ‘n Toyota Cross en ‘n drie maande oue Jetour, het heeltemal uitgebrand.
Die res van die huis, wat die kamers insluit, het nie gebrand nie, maar het rook- en waterskade opgedoen.
Verder was daar nog voorvalle van huisbrande, met ‘n meenthuis in Boerneefstraat, Langenhovenpark, wat Saterdag gebrand het.
Van Zyl sê die inwoners was nie tuis toe die brand ontstaan het nie, maar gemeenskapslede en bure het vinnig gereageer en het die brandweer gebel, wat binne 11 minute op die toneel was.

Toe die brandweer daar aankom, het die dak reeds ingestort. Lede van die woonbuurtvereniging, Fidelity SecureFire en Fire Ops SA het saam met die Mangaung-brandweer die brand geblus. Een persoon is op die toneel vir rook-inaseming behandel en na die hospitaal geneem vir verdere behandeling.
‘n Plakkershuis in ‘n informele nedersetting in Heidedal, Gatvol, is ook die naweek in ‘n brand vernietig.
Ander brande wat die naweek voorgekom het, sluit in ‘n brand wat strukturele skade in Botshabelo aangerig het en ‘n huis wat in Moroka in Thaba Nchu gebrand het.
Van Zyl sê ná die strawwe ryp die afgelope tyd, neem veldbrande nou vinnig toe. Die afgelope naweek was daar verskeie voorvalle van veldbrande by Brandkop en in Lakeview.
Hy sê ondersoeke na die verskeie struktuurbrande duur voort.






You must be logged in to post a comment.