By die Hoërskool President Steyn in Bainsvlei het Derrick de Clerk vanjaar die leisels as hoof oorgeneem ná die aftrede van die vorige skoolhoof, Roelof Meyer, in 2023.
De Clerk het aan die Hoërskool De Aar matrikuleer en onderwys aan die Noordwes-Universiteit studeer (NWU).
Hy het daarna 13 jaar aan die Hoërskool De Aar skoolgehou voordat hy na die Hoërskool Hoopstad is, waar hy ‘n departementshoof was.
Voordat hy vanjaar sy nuwe pos ingeneem het, was hy vir twee jaar hoof aan die Hoërskool Sandveld in Wesselsbron.
De Clerk sê om by ‘n skool soos President Steyn te werk, is om die beste van twee wêrelde te hê – die plattelandse omgewing waarin die skool geleë is, met die stad net ‘n paar kilometer weg.
“Kinders van oor die Vrystaat heen is hier in die koshuis en verder ry talle leerders daagliks met busse uit die stad skool toe. Dit is wat die skool so lekker maak: ‘n plattelandse skool by Bloemfontein en ‘n Afrikaanse skool wat nog Christelike waardes uitleef.”
Die klasse is klein, wat verseker dat leerders individuele aandag kry. De Clerk is beïndruk met die skool se sportgeriewe.
“Een aspek waarop ons vanjaar gaan begin fokus, is om meer landbouvakke by die skool aan te bied.”
Hy sê landboustudie word reeds aangebied – nou volg landboubestuur en -tegnologie.
“Een van die groot voordele van President Steyn is dat hier goeie landbougrond beskikbaar is waarop praktiese werk gedoen kan word. Met die inskakeling van landbouvakke glo ek die 8ha wat beskikbaar is, sal goed gebruik kan word.”
De Clerk sê hy is hartlik by die skool verwelkom en sien uit na ‘n produktiewe, goeie jaar by dié skool.





