Die Vrystaat het die laagste lewensverwagting van enige provinsie in Suid-Afrika.

Dit veroorsaak dat die bevolking van die Vrystaat afneem.

Suid-Afrika se middeljaar-bevolking word volgens die jongste syfers op 63,1 miljoen geraam.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, sê dit is ‘n aanduiding van die dalende sosio-ekonomiese omstandighede van Vrystaters en vinnig dalende dienste wat deur die ANC-regering in dié provinsie gelewer word. Die jongste bevindings van Statistieke Suid-Afrika (Stat SA) se bevolkingsskattings vir 2025, wat deur die statistikus-generaal, Risenga Maluleke, vrygestel is, dui daarop dat die lewensverwagting vir die gemiddelde man in die Vrystaat 57,3 jaar en 64,2 jaar vir vroue is. Dit is heelwat laer as die 69,6 jaar vir vroue en 64 vir mans in Suid-Afrika.

Die Wes-Kaap het die hoogste lewensverwagting van 72,2 jaar vir vroue en 67,2 jaar vir mans.

Jankielsohn sê die skrille kontras is ‘n direkte gevolg van die ANC-bestuurde regering in die Vrystaat, wat nie daarin kan slaag om basiese dienste te lewer nie.

“Die regering skiet ook tekort wat betref openbare gesondheidsorg en om toestande te skep waarin inwoners lang, waardige lewens kan lei nie.

“Die ANC se korrupsie, wanbestuur en kaderontplooiing het gelei tot ‘n humanitêre krisis waar verminderde lewensverwagting en voortydige dood tragies genormaliseer is.

“Die dalende maatskaplike en ekonomiese omstandighede en lae lewensverwagting wat inwoners van die Vrystaat ervaar, is die gevolg van wanadministrasie, korrupsie en kaderontplooiing wat mense doodmaak,” sê hy.

Volgens Jankielsohn is dit weens die volgende faktore:

■ Die ineenstorting van provinsiale gesondheidsorgdienste.

■ Munisipale disfunksionaliteit wat gelei het tot rampspoedige rioolbesoedeling in waterbronne, ongesonde omgewings en ‘n gebrek aan veilige en betroubare watervoorsiening in huise.

■ Die ineenstorting van infrastruktuur en swak basiese dienste op provinsiale en munisipale vlak wat die ekonomie plaaslik vernietig en beleggings in die provinsie verwurg en wat lei tot werkloosheid.

■ Die toename in ongesonde informele nedersettings weens die korrupte plundering van fondse wat bedoel is vir veilige behuising en skoon woonbuurte.

■ Die 62% van inwoners in die provinsie wat vasgevang is in armoede en nie toegang het tot voedsame kos, klere of skuiling nie.

Jankielsohn sê die hoër lewensverwagting in die Wes-Kaap, in teenstelling met ander provinsies, is ‘n aanduiding van ‘n DA-regering wat basiese dienste en gesondheidsorg van inwoners prioritiseer deur ‘n doeltreffende en doeltreffende staatsdiens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article