Ná nog ‘n suksesvolle manne-aand wat die Lettie Fouché Skool vroeër vanjaar aangebied het, het die skool besluit om vanjaar sy eerste Dankie-sê-projek aan te pak.
Janu de Beer, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê hulle het besluit op dié projek om hul dank te betuig vir almal wat die Lettie Fouché-skool so getrou ondersteun.
“Ons het al baie eerstes gedoen: ons skool het eerste ‘n lapa gebou, ons het die eerste manne-aand in Bloemfontein begin, en nou is ons die eerste welsynsorganisasie wat ‘n ander op so ‘n wyse ondersteun,” sê De Beer.
Hy verduidelik Lettie Fouché is nie net ‘n skool nie, maar ook ‘n geregistreerde welsynsorganisasie.
“Ons het besluit om vanjaar die Vrystaat-Nasorgsentrum te ondersteun − juis omdat dié sentrum en Lettie Fouché sulke nou bande het.
“Judith Viljoen het in 1953 die Lettie Fouché-sentrum gestig wat later in twee apparte organisasies ontwikkel het − die skool en die nasorgsentrum vir volwassenes met verstandelik inperkings daarnaas.
“By ons skool se koshuis staan daar ‘Hy voorsien’ en dit was nog altyd so,” sê De Beer.
“Deur ons Dankie-sê-projek wil ons die Vrystaat-Nasorgsentrum vanjaar help met hul behoeftes.
“Ons hoop om hierdie projek jaarliks deel te maak deur ‘n gedeelte van ons opbrengs uit die manne-aand aan ‘n ander welsynsorganisasie te skenk.”
Die Dankie-sê-projek word op Vrydag 25 Julie van 09:00 tot 15:00 by die Southern
Centre in Fichardtpark aangebied. Lede van die publiek word genooi om klere, nie-bederf-bare kos en toiletware by die geleentheid na die sentrum in Benaderylaan te bring.
De Beer sê die publiek is ook welkom om ‘n kontantdonasie te maak. Kontak die skool by admin@lfskool.co.za om donasies te maak.
Francois Pirnsloo, die Vrystaat-nasorgsentrum se bestuurder, sê hy is dankbaar vir dié gebaar van die skool.
Hy sê die sentrum het nou 113 inwoners waarvan 60% nie meer familie het nie.
Van die items wat hulle benodig is klere, skoene, volwasse doeke (medium en groot) en toiletware vir mans en vroue.
“Mense kan ook koopbewyse van klerewinkels by die winkels in Southern Centre koop en dit skenk waarmee ons dan inwoners wat dit nodig het, kan neem om self vir hulle klere te kies.”
Benewens ‘n buite-uitsending van Rosestad FM, sal daar ook optredes deur kinders van Lettie Fouché wees, soos die rubberstewel-dansers en die perkussie-spelers.





