Die bees- en kleinveeskoue wat in April as deel van Bloemskou aangebied sou word, is weens bek-en-klouseer afgestel.
Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê dié besluit is geneem deur die omstandighede weens die siekte in Suid-Afrika te oorweeg en in belang van die groter landbougemeenskap.
“Die risiko vir verspreiding van die siekte onder beeste, skape en bokke moet sover as moontlik beperk word. Daarom is besluit om die samekoms van gespelete hoefdiere tot verdere kennisgewing op die Bloemfontein-skouterrein te beperk.”

Die uitbreking van bek-en-klouseer in die Vrystaat neem steeds toe, en dreig om die vleisbedryf in die provinsie tot stilstand te bring.
Meer as 220 bevestigde gevalle van die siekte is reeds in die Vrystaat aangemeld.
Dié syfer groei steeds namate streng kwarantyn- en bewegingsbeperkings op besmette plase ingestel word.
Landwyd is 188 nuwe gevalle aangemeld, en die getal bevestigde gevalle in die land staan nou op 655.
Die siekte, wat veroorsaak word deur die bek-en-klouseervirus, wat slegs diere met gesplete hoewe aantas, veroorsaak pynlike letsels in en om die mond en pote van diere, wat veroorsaak dat vee ophou eet – en boere gevolglik groot ekonomiese verlies ly. Die virus versprei maklik deur direkte kontak, maar ook via mense, voertuie, toerusting en klere wat met besmette vee of omgewings in aanraking gekom het.
Prinsloo sê die besluit om die skoue af te stel is nie ligtelik geneem nie, en het op konsultasies met bedryfsleiers en belanghebbendes gevolg.
Die uitbreking kom te midde van reeds toenemende druk op boere ná ‘n moeilike einde van 2025 en ‘n stilstand in uitvoermarkte weens die siekte. Boere in die Vrystaat is veral bekommerd oor die moontlike verlies aan inkomste, veewaardes en marktoegang namate die siekte versprei.
Die Rooivleisprodusente-Organisasie (RPO) het dit duidelik gestel dat hy die departement van landbou se pogings om die siekte te bekamp wel aanvaar, maar dat belangrike kwessies dringend aangespreek moet word om die situasie om te keer.
Die RPO het spesifiek herhaal dat ‘n ministeriële taakspan dringend saamgestel moet word om entstowwe doeltreffend, gekoördineerd en tegnies korrek in te span, veral aangesien boere beperkte toegang tot die toepaslike entstof het en onduidelikheid oor verspreiding en beskikbaarheid heers.
Die RPO verwelkom die regering se strategiese planne om die siekte aan te pak, maar stel indringende vrae oor die instel daarvan en dring aan dat produsente meer betrek word by besluitneming en die uitvoering van beleid wat lewensvatbaarheid raak.
Terwyl entstowwe steeds via staatskanale en private maatskappye beplan en ingevoer word, benadruk kenners die belangrikheid van streng biosekerheidsmaatreëls op grondvlak, insluitend die ontsmetting van voertuie en toerusting, die beperking van vee-bewegings en die opleiding van werknemers oor hoe hulle besmetting kan help voorkom.
Data dui daarop dat die piek van die bek-en-klouseer-uitbreking nog nie bereik is nie, en hoewel daar hard agter die skerms gewerk word deur die minister van landbou, John Steenhuisen, wat vandeesweek ‘n nasionale strategie afgekondig het om die risiko’s te beperk, wil dit voorkom of die risiko’s te groot is vir die aanbied van die vee-afdeling by Bloemskou.
Prinsloo bevestig dat ander afdelings en aanbiedings op Bloemskou voortgaan. Dit sluit in die Nasionale Saalperdskou, perde-kompetisies, asook die kommersiële deel van die skou wat die vermaak, pretpark en kosstalletjies insluit.
Reëlings is reeds getref en dit gaan met entoesiasme aangebied word.
Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landbou, sê die party het op Maandag 19 Januarie ‘n beroep op Steenhuisen gedoen om ‘n ramptoestand af te kondig en dat hy bevestig het dat dit met die eerste kabinetsvergadering bespreek sal word.
Boshoff sê toetsing vir die siekte was sedert die uitbreking daarvan in 2021 tydrowend. Teen die tyd dat besmetting bevestig is, is die betrokke diere al gesond, en sommige daarvan kan reeds bemark wees. Dit behels verspreiding, nog voordat enige kwarantyn ingestel is.
Selfs nadat die siekte epidemiese afmetings aangeneem het, was daar nog geen padversperrings of ander monitering van die beheer van diere nie.
Bloemskou se aankondiging behels dat vyf nasionale kleinvee-kampioenskapsbyeenkomste en vier nasionale beeskampioenskapsbyeenkomste, asook agt provinsiale en streeks-kampioenskapbyeenkoms wat op Bloemskou aangebied sou word, afgestel is. “Ons vertrou dat al die betrokkenes en die publiek begrip sal hê vir die situasie en die besluite wat geneem is,” sê Prinsloo.
■ Vanjaar se Bloemskou sal duur van 23 April tot 2 Mei op die Bloemfontein-skouterrein.







You must be logged in to post a comment.