Nie almal is tevrede met die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro, Gregory Nthatisi, se skommeling van sy burgemeesterskomiteelede nie.
Nthatisi het op Vrydag 24 Oktober die nuwe komitee aangekondig en gesê die oogmerk hiermee is om diensverskaffing meer effektief te maak, dit te versterk en te stabiliseer.
Een van die verskuiwings is dié van Lulama Titi-Odili, onderburgemeester, wat nou die burgemeesterskomiteelid vir finansies is.
Dirk Kotzé, DA-raadslid, meen dit is ‘n roekelose besluit wat die ANC se voortgesette minagting van aanspreeklikheid en gesonde geldelike bestuur weerspieël in ‘n metro “wat deur korrupsie, onregmatige uitgawes en ineenstorting van dienslewering verlam word”.
Kotzé sê die DA gaan die saak na die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer verwys om alle geldelike mislukkings tydens Titi-Odili se ampstermyn in Mangaung, van 2016 tot 2021, te ondersoek. Die DA vra ook dat sy ondersoek word vir die ses maande in 2023 dat sy in hierdie pos aangestel was.
“Onder haar leierskap as lid vir finansies, en later as adjunkburgemeester, is Mangaung geteister deur aanhoudende geldelike wanbestuur en bestuursmislukkings.”
Van die mislukkings waarna Kotzé verwys, sluit in provinsiale ingryping weens die voortslepende geldelike onstabiliteit en ineenstoring van die munisipaliteit in Desember 2019. Verder is die bevindings van die ouditeur-generaal vir 2017-’18 dat in dié tyd meer as R4,5 miljard se onregmatige uitgawes was en meer as R500 miljoen in verkwiste besteding aangewend is.
‘n Strafregtelike ondersoek deur die Valke word ook gedoen oor die betaling van R4,2 miljoen aan Maine Management en Geoktrooieerde Rekenmeesters vir dienste wat nooit gelewer is nie. Interne rekords dui op vervalste handtekeninge en dat Titi-Odili bewus was van die betalings, sonder dat sy opgetree het.
Vermorste uitgawes op die 2023-’24-jaarverslag, op onvoltooide projekte, is bo R5,5 miljoen. Geen dissiplinêre optrede is geneem nie.
Kotzé sê daar is herhaalde versuim om voorwaardelike toelae te benut, wat gelei het tot ernstige onderbesteding, weerhouding van geld deur die nasionale tesourie en ook verlore diensleweringsgeleenthede.
“Hierdie mislukkings het openbare vertroue afgetakel, noodsaaklike dienste ontwrig en Mangaung se geldelike krisis verdiep. Mangaung verdien bekwame, deursigtige en etiese leierskap, nie herwinde kaders wat verbind kan word met korrupsie en geldelike wanbestuur nie.”
Kotzé sê die die metro se verslag van die laaste kwartaal dui daarop dat dit slegter gaan in die metro as drie maande gelede.
“Watervermorsing het selfs nog verder gestyg, van 50% tot 51% van die stad se watervoorraad.”
Verder het invorderings gedaal van 80% tot 50%. Kotzé sê die metro se strawwe program wat vroeër vanjaar begin is om munisipale skuld in te vorder, het wel suksesse opgelewer.
Die ander burgemeesterskomiteelede is:
- Pani Twala, wat by landbou en landelike ontwikkeling bly;
- Alfred Qai by gemeenskapsdienste;
- Ntombi Nhlapo by menslike nedersettings;
- Cusi Soqaga by infrastruktuur;
- Theodorah Mosala, wat by vullisverwydering en vlootbestuur was en na geïntegreerde ont-
- wikkelingsplan (IDP) en pligsvervulling skuif;
- Vuyelwa Jonas, by beplanning en ontwikkeling, wat na vullisverwydering en vlootbestuur skuif;
- Sibongile Tsoleli, wat by IDP en pligsvervulling was en na korporatiewe dienste skuif;
- Logan Kruger, wat by finansies was en na openbare veiligheid en vervoer skuif; en
- Manthuse Letawana, wat by korporatiewe dienste was en is nou die lid vir ekonomiese ontwikkeling is.





