Padveiligheid rondom Bloemfontein se skole bly ‘n voortdurende uitdaging. Omdat verkeer rondom die stad se skole twee keer ‘n dag swaar is en padverkeersmerke nie oral duidelik is om orde te handhaaf en padgebruikers se veiligheid te bevorder nie, moet die gemeenskap soms inspring.
AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak het Saterdag 21 Februarie hard gewerk om leerders en padgebruikers se veiligheid om die skole te verbeter.

Die tak het voetoorgange by die Laerskool Sand du Plessis in Leeuwenhoek- en Fowlerstraat oorgeverf. By Hoërskool Sand du Plessis in Pasteurrylaan is die voetoorgange en die padmerke van ’n stopstraat oorgeverf. Hulle het ook vier slaggate in Mayostraat herstel.
Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum Jeug se volgehoue poging om gemeenskapsveiligheid deur selfdoenaksies en samewerking met plaaslike rolspelers te versterk.
AfriForum se Hospitaalpark-tak en AfriForum se Uitsig-buurtwag het verf en teer geskenk wat hierdie projekte moontlik gemaak het. AfriForum911 se reaksie-eenheid het ook die projek ondersteun.


“Projekte soos dié is moontlik wanneer die gemeenskap saamstaan en verantwoordelikheid neem. Ons jeug is bereid om moue op te rol en daadwerklik ’n verskil te maak waar dit die nodigste is. Deur praktiese aksies soos hierdie bou ons nie net aan veiliger paaie nie, maar ook aan ’n sterker gemeenskap,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum se Bloemfontein-tak.
Lede van die gemeenskap wat betrokke wil raak by soortgelyke projekte of wat inisiatiewe soos hierdie wil borg, kan AfriForum se Facebookblad besoek.
“AfriForum bly daartoe verbind om saam met die gemeenskap te werk om ’n veiliger en beter Bloemfontein te bou,” sê Groenewald.





You must be logged in to post a comment.