Braam van Wyk
Braam van Wyk, skoolhoof van Grey-kollege tree einde 2026 af.

Grey-kollege (sekondêr) se skoolhoof, Braam van Wyk, tree aan die einde van die jaar af.

Die voorsitter van Grey se beheerliggaam, Jan Harm Greyling, het vanoggend op Grey-kollege se Facebookblad dié aankonding gemaak. “Mnr. van Wyk speel sedert sy aanstelling vier jaar gelede ‘n belangrike leierskapsrol by Grey-kollege. Hy is ‘n uitstekende onderwysleier met baie ervaring en kundigheid en Grey het die afgelope paar jaar groot hoogtes bereik met hom aan die stuur”, lui die nuusverklaring.

Greyling sê Van Wyk het sy visie vir die Grey van die toekoms gebou op die grondslag van die skool se ryke kultuur en onderwysgeskiedenis. “Sy uitsonderlike insig in mense is duidelik uit die manier waarop hy die skoolgemeenskap kon saamsnoer rondom sy doelwitte.

Van Wyk sê in die verkalring dit was vir hom ‘n voorreg om sy onderwysloopbaan te kon afsluit by die skool wat hom as ‘n jong seun gevorm het. “Grey-kollege is internasionaal bekend vir die skool se uitnemendheid op alle gebiede – van akademie en sport tot kultuur en sosiale impak. Om aan die stuur te staan van só ‘n geskiedkundige onderwysinstelling, was ‘n groot uitdaging, maar ook ‘n wonderlike voorreg. As oud-Grey en Grey-ouer en nou ook as skoolhoof sal die Grey-gees altyd in my hart voortleerf. Maar vir eers bly my fokus op die res van die jaar, met die belange van die seuns soos altyd my eerste prioriteit.”

Volgens die beheerliggaam sal die proses om ‘n nuwe skoolhoof aan te stel – die twaalfde skoolhoof sedert die skool in 1855 gestig is – binnekort begin. As deel van die proses, werk die beheerliggaam saam met die provinsiale onderwysdepartment om die voorgeskrewe prosedures te volg.

Greyling sê hulle wil die Grey-kollege-skoolgemeenskap verseker dat die skool se etos in alle besluite die rigtingwyser sal wees en dat die volgende skoolhoof van dieselfde kaliber as Van Wyk en sy voorgangers sal wees.

“Vir Grey is dit ‘n eer om mnr. Van Wyk se loopbaan in die onderwys te vier en ons sal toesien dat sy nalatenskap op gepaste wyse geër word,” sê Greyling.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article