BLOEMFONTEIN – Huldeblyke en boodskappe van troos stroom in vir familie en vriende van wyle Zaza Pieterse (85), ‘n bekende lid van die Fichardt-familie van Bloemfontein.

Zaza, ‘n oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje wat haar lewe lank bande met dié skool gehad het, is op Dinsdag 17 Maart in die Mediclinic Bloemfontein oorlede.

Sy was in 1958 hoofmeisie en van 1992 tot 1997 die voorsitter van die skool se reüniekomitee.

Sarette Botha, gewese reüniekomitee-voorsitter, sê sy het Zaza die afgelope 40 jaar geken.

Sy skryf op Facebook: “Tannie Zaza was (néé is – teenwoordige tyd…want sy sal altyd wees!) ’n visioenêr. Sy was haar tyd letterlik Vooruit! Sy het só ’n groot verskil in my lewe gemaak met alles wat ek by haar geleer het.

“Sy het ’n algemene kennis gehad wat geen gelyke het nie en kon ’n stuk skryf dat dit vir jou voel jy is self daar. Haar humorsin was fyn en haar gesels het net nooit ‘op geraak’ as jy by haar is nie.

“My innige simpatie aan Oom Jan le Roux waarmee sy 61 jaar getroud was en haar kinders. Mag julle rus vind in die wete dat sy enduit haar alles gegee het en nou waarlik “tuis” gekom het by haar Hemelse Vader.”

Die egpaar het vroeër jare op die plaas Groningen in die Smithfield-distrik geboer en die laaste paar jaar op die Woodland Hills-wildlandgoed.

Sy het ‘n doktorsgraad in Afrikaans en het lang jare rubrieke vir Volksblad en ander koerante geskryf. Sy het vroeër jare by Grey-kollege skoolgehou.

‘n Gedenkdiens word Saterdag om 10:00 gehou op die Brandkop-landgoed buite Pellissier, wat steeds aan die Fichardts behoort.

Fana Prinsloo skryf op Facebook: “Zaza was ‘n ware Spreuke 31-vrou, as sy gepraat het, was dit met wysheid, as sy leiding gegee het, was dit met liefde. Sy kon lekker bak, naaldwerk doen, skilder, sing en het baie konserte gehou op Smithfield. Ons gemeenskap gaan haar mis, maar het baie om te onthou waar sy ons lewens verryk het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article