Noodreddingswerkers op die toneel van 'n ongeluk op die R702. FOTO: VR Med
Noodreddingswerkers op die toneel van ‘n ongeluk op die R702. FOTO: VR Med

Die Dewetsdorppad (R702) by Grootvlei-gevangenis is op Woensdag 25 Februarie tydelik vir verkeer gesluit ná ‘n ernstige ongeluk waarin een mens dood en drie ernstig beseer is.

Die Mangaung-brandweer en reddingsdiens moes insittendes wat in ‘n ligte vragmotor vasgekeer was, met toerusting verwyder.

Noodreddingswerkers en brandweerpersoneel op die R702 buite Bloemfontein waar twee voertuie vanoggend in 'n ongeluk betrokke was. FOTO: VR Med
Noodreddingswerkers en brandweerpersoneel op die R702 buite Bloemfontein waar twee voertuie vanoggend in ‘n ongeluk betrokke was. FOTO: VR Med

Lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie, sê ‘n saak van strafbare manslag word deur die Bloemspruit-polisie ondersoek.

“Volgens getuies het twee vragmotors – ‘n wit Toyota Dyna en ‘n wit Toyota Hino teen mekaar gebots.” Covane sê die Hino het in die rigting van Dewetsdorp beweeg en die Dyna was in die rigting van Bloemfontein op pad toe die ongeluk plaasgevind het.

Pieter du Plessis van VR Med sê dit wil voorkom of kabels van ‘n een van die vragmotors afgeval het, waarna die ander moes uitswaai en die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het. In die een vragmotor was daar vier insittendes waarvan die bestuurder (37) op die toneel deur noodreddingswerkers dood verklaar is. Twee insittendes van dié voertuig is vir behandeling na die Busamed Bram Fischer-hospitaal geneem. Die bestuurder van die ander voertuig is na die Mediclinic Bloemfontein vervoer.

VR Med, Netcare en Priority Care was op die toneel om die drie beseerdes te behandel en na die hospitale te neem.

Die ongelukstoneel op die R702 naby Grootvlei-gevangenis. FOTO: VR Med
Die ongelukstoneel op die R702 naby Grootvlei-gevangenis. FOTO: VR Med

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article