Bram Fischer-gebou, Bloemfontein
Die Bram Fischer-gebou, setel van die Mangaung-metro. FOTO: Lientjie Mentz

Na aanleiding van die Ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die Mangaung-metro se geldsake vir 2024/25, vra die DA optrede om die agteruitgang te stuit.

“Die DA dring aan op die onmiddellike implementering van herstelmaatreëls wat lank geïgnoreer is om verdere agteruitgang te stop en inwoners te beskerm teen diensonderbrekings wat by die dag meer word,” sê Dirk Kotzé, DA-wyksraadslid.

Hy sê die DA gaan versoek dat ‘n onafhanklike forensiese span die R1,36 miljard oortollige uitgawe terug te kry. Hy sê daar moet ook ‘n gespesialiseerde taakspan aangestel word om ‘n noodinfrastruktuurprogram te begin om die lekkasies wat daartoe lei dat ongeveer die helfte van die stad se water (48%) verlore gaan, reg te stel.

“Die verslag is nie bloot ‘n oudit nie; dit is ‘n kroniek van ‘n regering se minagting vir aanspreeklikheid,” sê Kotzé.

“Jaar na jaar maak die OG dieselfde aanbevelings vir herstel, en jaar na jaar ignoreer die ANC-administrasie dit, wat ‘n kultuur van onbekwaamheid wat ongestraf bly, laat floreer.”

Die OG se jongste beoordeling bevestig die metro se agteruitgang en beskryf die diepgaande sistemiese risiko’s wat hierdie agteruitgang bemagtig. ‘n Ontstellende 61% van die munisipaliteit se senior bestuurders het nie aan die minimum bevoegdheidsvlakke wat deur die wet vereis word, voldoen nie.

“Hierdie fundamentele mislukking lei tot geldelike wanbestuur, toesigstrukture wat nie aanspreeklikheid afdwing nie, en diensleweringsfoute wat voortspruit uit swak uitvoeringstelsels, alles gegrond op ‘n swak etiese kultuur en nie-bestaande gevolgbestuur.

“Ongeag die herhaalde waarskuwings het ongemagtigde oorbesteding tot R1,36 miljard gegroei. Verder beloop die munisipaliteit se skuld R2,24 miljard aan kritieke diensverskaffers soos Eskom en die waterraad.

Lees ook: https://novanews.co.za/bloemnuus/opposisie-eis-deursigtigheid-in-mangaung-metro/

Kotzé sê hierdie growwe ondoeltreffendheid en wanbestuur beteken dat inwoners ly terwyl die munisipaliteit geld en hulpbronne verloor, wat enige grondslag vir betroubare basiese dienste vernietig en aktief werkskepping en ekonomiese geleenthede voorkom.

“Ons sal veg om hierdie kultuur van minagting en onbekwaamheid te vervang met robuuste toesig en vaardige bestuur, volhoubare betalingsplanne vir die R2,24 miljard agterstallige skuld onderhandel om die ligte en water aan te hou, en elke teruggevorderde rand herlei om infrastruktuur te herstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article