Inwoners van Rayton is op die oorlogspad oor ‘n voerkraal met beeste en skape wat op ‘n erf in Ray Championstraat begin is.
‘n Amptelike ondersoek word nou deur die Mangaung-metro se gesondheidsafdeling gedoen om te bepaal of dit toelaatbaar is dat sowat 35 beeste en 40 skape op die erf aangehou word.
Die beeste word aangehou op ‘n erf reg langs Beudene, ‘n gespesialiseerde dagsorgsentrum en terapeutiese groep vir kinders met spesiale behoeftes.
Beulah van Aswegen, stigter van Beudene, sê sy het op 24 Junie − kort nadat die eerste beeste hier hul verskyning gemaak het − met die eienaar gaan praat.
Hy het toe vir haar gesê dit is net ‘n tydelike reëling, totdat hy die beeste na sy plaas in Bainsvlei verskuif.
Dit is al byna twee maande later, en in plaas daarvan dat die beeste verskuif is, het hulle meer geword − met ‘n trop skape wat intussen ook hier gevestig is.
Die beeste het aanvanklik in die veld daarnaas gewei, maar dit is gestop en nou word die vee gevoer.
Van Aswegen is bekommerd omdat hulle twee maal ‘n dag kos maak vir die sowat 100 kinders en volwassenes wat daagliks hier versorg word en etes kry.
“Ek het baie hard gewerk om al my registrasies in plek te kry sodat die skool veilig is en dit aan al die regulasies voldoen.”
Sy sê veral die kinders wat serebrale gestremdhede het, is vatbaar vir siektes.
“Die kinders speel oral hier op die hoewe in die veld, en ons is bekommerd oor dinge soos bosluise.”
Noelene van Rooyen, wat in Lilyvalestraat naby die “kraal” woon, sê sedert die beeste hier gevestig is, is daar groot, blou brommers in haar huis.
“Daar is sowat ses gastehuise en ‘n restaurant in Rayton, en die teenwoordigheid van die trop beeste hier skep vir ons almal probleme,” sê sy.
Van die kwessies wat in ‘n amptelike verslag deur die departement van gesondheid uitgewys word, is slegte reuke en ‘n oormaat vlieë, die bestuur van afvalstowwe en die
invloed van helder ligte wat dwarsdeur die nag op die diere skyn.
Inwoners sê die helder lig wat op die beeste skyn, verblind motoriste wat in die nag in Ray Championstraat ry − veral omdat die perseel op die skerp draai in dié straat is.
Johan Pretorius, die DA-wyksraadslid in die wyk waarin Rayton val, sê ondersoeke word nou deur verskillende departemente, asook die staatsveearts, gedoen.
“Daar moet vasgestel word van waar die beeste kom. Bek-en-klouseer is in baie plekke ‘n probleem, en ons wil seker maak dat hierdie beeste nie daaraan ly nie.”
Pretorius sê die metro moes lankal optree het.
“Hulle moet weekliks ‘n boete uitreik vir die onwettige aanhou van vee.”
Hy sê burgerlike beskerming wag vir besluitnemers oor grondgebruik wat kan beslis of dit landbougrond is en dat beeste daar toegelaat word. Met die ontwikkeling van Shellyvale is Rayton tot ‘n residensiële gebied hersoneer. Munisipale regulasies vir residensiële eiendom geld dus.
“As die metro besluit dit is ‘n landbougebied, skuld hy baie geld aan inwoners wat residensiële tariewe betaal.”
Zaandré Campher, bestuurder van die Bloemfonteinse DBV, sê dié instansie se skutstatus by die Mangaung-metro het verval en hulle mag nie groot of klein diere skut nie.
“As ons nog skutstatus gehad het, sou die DBV kon optree,” sê hy.





