Die Boerevolk van die OranjeVrijstaat, ‘n minderheidsgroep binne die Afrikanervolk, dring nou daarop aan dat die grondgebied wat deur Brittanje en later die 1994-administrasie van die Republiek van Suid-Afrika van hulle weggeneem is, teruggegee word.
So skryf Wim Rossouw, waarnemende volksraadspremier van die Republiek van die OranjeVrijstaat in die Staatskoerant op 30 Januarie.
Rossouw, wat nie tot ‘n onderhoud wou instem nie, was bereid om vrae te antwoord oor wie die boerevolk is en hoe hulle die toekoms sien.
In die eerste inskrywing in die Staatskoerant op 7 November 2025 skryf Rossouw die Oranjevrijstaat Boervolk, synde ‘n internasionaal erkende soewereine volk met eie grondgebied soos uiteengesit in die Bloemfonteinse konvensie van 1854, wil sy status herstel soos dit op 30 Mei 1902 was.
Verder sê die skrywe die Boervolk van die Oranjevrijstaat neem nou sy eie sake verder as ‘n soewereine volk en sonder inmenging en dat die Oranjevrijstaat Boervolk hiermee herbesit neem van die ampte van staatspresident, waarnemende staatspresidente van die Oranjevrijstaat en Oranjevrijstaat Volksraad en ampte van uitvoerende gesag soos uiteengesit in die Constitutie van van die Republiek van die Oranjevrijstaat. Die gebied ter sprake is noord van die Oranjerivier en suid van die Vaalrivier asook die hele Republiek van Natalia (KwaZulu-Natal).
Hy sê verder die huidige Administrasie van die Suid-Afrikaanse regering het in die Veiligheidsraad van die Vereenigde Nasies op 6 Januarie dit duidelik gemaak dat geen volk onderdruk mag word deur ‘n ander nie.
“Hier sit die Boervolk op eie bodem, gekoloniseer in 1843 en 1902, met die bepaling in die Vredesverdrag van Vereniging wat uitdruklik bepaal dat selfbeskikking weer aan die Boervolk gegee sou word,” sê Rossouw.
Volgens hom is die Boerevolg ‘n groepering van tussen 600 000 en 800 000 individue.
“Die Boervolk is in Frankryk vervolg deur die Romeinse Kerk, en moes vlug met die klere aan hulle lyf na Nederland. In die Kaap aangekom, moes hulle hul plase agterlaat om te vlug voor Britse oorheersing en dit wat hulle op ‘n’n kakebeenwaentje kon laai die vreemde en lewensgevaarlike binneland in vlug. Die eerste Volksraad is by Blesberg (Thaba Nchu) verkies, wat dan die geboorte was van die Boervolk. In ‘n kort tydjie het hulle floreer en ‘n vooraanstaande land ontwikkel en dit is wat weer gaan gebeur,” sê Rossouw.
Hy sê die Boerevolk is al 123 jaar onder kolonisasie. “Ons kan nou met reg aanvaar dat Brittanje nie sy ooreenkoms gaan nakom nie, net soos Dingaan nooit van plan was om sy deel van die ooreenkoms na te kom nie.”
Rossouw sê Brittanje se kolonisasie van Suid-Afrika wis nie die inheemse regte en titels uit soos beslis deur die Konstitituenele Hof in die Richtersveld-saak.
Hoewel inligting oor die groep nêrens op sosiale media gevind kan word nie, het hulle hul eise in die Staatskoerant gepubliseer en daarmee ‘n openbare uitnodiging aan die regering gestel om met hulle in verbinding te te tree.
Rossouw sê die geopolitiese toneel, die inligtingsontploffing en die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse dispensasie is van die redes waarom die Boerevolk van die Oranjevrijstaat sy oproep tot selfbeskikking nou gemaak het.





