AfriForum dien klagte in teen Mangaung se stadsbestuurder oor stortingsterreine

AfriForum se personeel laai vullis op.
AfriForum se personeel laai vullis op.

BLOEMFONTEIN. AfriForum het op Woensdag 3 September strafregtelike klagte by die polisie ingedien teen die Mangaung-metro se stadsbestuurder, Sello More, oor sy volgehoue versuim rakende vullisbestuur in die stad.

Jaco Grobbelaar, distrikshoof van AfroForum se sentrale streek, sê hulle het twee klagte ingedien: een oor die noordelike stortingsterrein en een oor die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein.

Grobbelaar sê dit is gedoen weens More se volgehoue versuim om vullisbestuur in Bloemfontein doeltreffend toe te pas en vullisterreine aan die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur te laat voldoen.

Christo Groenewald (links) en Jaco Grobbelaar van AfriForum het op Donderdag 4 September ‘n speelgoed-vullisverwyderingsvragmotor aan die hoof van afvalbestuur in die Mangaung-metro, Ernest Thabang, oorhandig om aan die stadsbestuurder, Sello More, te gee. Foto: Lientjie Mentz

Die burgerregteorganisasie het ook Donderdag vullis by die munisipale hoofkantoor, die Bram Fischer-gebou in Bloemfontein, opgetel én ’n speelgoedvullisvragmotor aan More oorhandig, aangesien dié metro volgens hulle nie vertrou kan word om vullisverwydering op munisipale vlak te bestuur nie.

Grobbelaar sê More se prestasiebeoordeling vir die 2024-’25-boekjaar voer aan dat hy al sy interne maatstawwe vir sukses (KPI’s) ten volle bereik het, tog is die Mangaung-metro feitlik bankrot. Dié metro is nie eens in staat om basiese dienste soos vullisverwydering te lewer nie.

“Die munisipale bestuurder is van mening dat hy al sy teikens bereik het om van die stad ’n sukses te maak, maar in werklikheid gaan die metro steeds gebuk onder ernstige diensleweringstekorte. Die metro se verwoestende inploffing onder More se bestuur dien as bewys waarom basiese dienslewering aan organisasies soos AfriForum oorhandig moet word, wat sal verseker dat dienste soos vullisverwydering volhoubaar gelewer word.”

Die klagte teen More is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis 59 van 2008 gelê nadat daar selfs in AfriForum se oudit uitgelig is dat nie een van Bloemfontein se stortingsterreine aan die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie.

AfriForum het reeds twee keer dit onder die munisipale bestuurder se aandag gebring dat Bloemfontein se stortingsterreine dringend aan wetlike standaarde moet voldoen. Die kwessie is selfs na die provinsiale regering geëskaleer. Nie een van die partye het egter gereageer nie, wat AfriForum genoop het om op te tree.

AfriForum het met sy vullisverwyderingsvragmotor deur Bloemfontein beweeg en benewens lede se vullis ook vullis verwyder wat die agelope week nie deur die Mangaung-metro se afdeling vir vullisverwydering opgetel is nie. Foto: Lientjie Mentz

Terwyl die ondersoek na More onderneem word, het AfriForum ook ’n beroep op die metro gedoen om finansiële aanspreeklikheid te herstel en bevoegde diensverskaffers, soos AfriForum, in staat te stel om kritieke dienste soos vullisverwydering ten volle aan die gemeenskap te lewer. AfriForum het jare gelede begin om ‘n vullisverwyderingsdiens in sekere gebiede te lewer en het ook al inwoners se vullis verwyder wat deur die metro agtergelaat is.

Christo Groenewald AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, sê dié burgerregteorganisasie het juis hierdie week weer ingespring om vullis op te tel omdat die metro weer probleme ondervind om die diens te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article