Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling bestuur ‘n grootskaalse inentingsveldtog om die verdere verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) te bekamp nadat ses nuwe gevalle onlangs in die provinsie bevestig is.
Volgens die departement is 200 000 dosisse van die Biogenesis Bago-entstof op 25 Februarie ontvang, waarna die inentingsveldtog onmiddellik in al vyf distrikte van die Vrystaat begin is.
Tot dusver is reeds 43 431 beeste ingeënt as deel van die noodmaatreëls om die hoogs aansteeklike siekte te stuit.
Owerhede beklemtoon dat die inentingsprogram gratis is en dat boere aangemoedig word om daarvan gebruik te maak. Die department sê aansoeke vir inenting is oop, en ‘n groot aantal versoeke is reeds van boere ontvang. Hulle waarsku egter dat nie alle aansoeke tydens die eerste fase van die veldtog goedgekeur sal word nie, aangesien hoërisikogebiede voorkeur kry in ‘n doelgerigte strategie om die siekte so vinnig moontlik onder beheer te bring.
Boere word nietemin aangemoedig om steeds aansoek te doen, aangesien die inligting noodsaaklik is vir die beplanning van die volgende fases van die inentingsprogram en om die toekomstige behoefte aan entstowwe akkuraat te bepaal.
LEES OOK: Agriculture minister faces legal challenge over foot-and-mouth vaccination ban
Intussen geld streng bewegingsbeperkings steeds, veral op plase binne ‘n radius van 10km van besmette gebiede. Betrokke plase is onder kwarantyn geplaas, terwyl omliggende plase ook onder voorsorgkwarantyn geplaas is totdat verdere monitering en toesig kan bepaal of die siekte na ander gebiede versprei het.
Die departement het egter sy ernstige kommer uitgespreek oor ‘n toename in boere wat versuim om gevalle van bek-en-klouseer aan te meld. Amptenare waarsku dat dit nie net ‘n strafbare oortreding is nie, maar ook die doeltreffende beplanning van inentingsveldtogte ernstig belemmer.
Volgens die department kan onvolledige of onakkurate inligting daartoe lei dat onvoldoende entstof na sekere gebiede versprei word, wat die risiko vir verdere uitbrekings aansienlik verhoog. Boere word versoek om enige diere wat moontlik besmet is dadelik aan te meld.
Die departement het terselfdertyd bevestig dat ses nuwe uitbrekings van bek-en-klouseer onlangs aangemeld is in gebiede rondom Qwaqwa en Harrismith; Kroonstad; Boshof en Bultfontein; Reitz en Lindley; Parys en Vredefort; en Thaba Nchu.
Dit bring die aantal bevestigde uitbrekings in die Vrystaat nou op 386 te staan.
Tot dusver is uitbrekings reeds in 19 plaaslike munisipaliteite in die provinsie bevestig, met gebiede soos Viljoenskroon en Vredefort en ook Parys en Vredefort wat die swaarste getref is.
Die departement waarsku dat bek-en-klouseer steeds ’n ernstige bedreiging vir die provinsie se veeboerdery en landbou-ekonomie inhou. Boere en alle betrokkenes in die landboubedryf word daarom versoek om saam te werk om die verspreiding van die siekte te bekamp.
Streng biosekuriteitsmaatreëls, die beperking van dierbewegings en die onmiddellike aanmelding van verdagte gevalle bly van kardinale belang om die uitbreking uiteindelik onder beheer te bring, het die department gewaarsku.
LEES OOK: Bek-en-klouseer in Lesotho: Takel skutgeriewe en oorgrensmisdaad, pleit VL





