Elsabe en dr. Ludwig de Jager.
Elsabe en dr. Ludwig de Jager wat die week oorlede is. FOTO: Verskaf

‘n Sagmoedige reus dr. Ludwig de Jager (68) wat geliefd was onder sy pasiënte, vriende, familie en werknemers van die Mediclinic Bloemfontein, is op Dinsdag 17 Maart oorlede.

Elsabe de Jager, rubriekskrywer vir BloemNuus en Ludwig se eggenoot van byna 35 jaar, sê hulle harte is stukkend. “Ludwig was ‘n sagte mens, bekend vir sy medemenslikheid en omgee.”

De Jager het nadat hy in 1990 sy spesialisasie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) voltooi het, van 1991 tot 2001 in die akademie gewerk in die oor- neus- en keel-departement aan die UV.

Die De Jager-familie is hier van links Heidi, Ludwig, Carli en Elsabé. Die foto is 'n paar jaag gelede geneem. Die twee dogters bly in Kanada. Foto: Verskaf
Die De Jager-familie is hier van links Heidi, Ludwig, Carli en Elsabé. Die foto is ‘n paar jaag gelede geneem. Die twee dogters bly in Kanada. Foto: Verskaf

Die egpaar het daarna vir 18 jaar in Kanada gewoon waar dr. De jager ‘n praktyk in Vancouver Island gehad het. In 2018 het Elsabe teruggekeer na Bloemfontein en in 2020 het Ludwig gevolg. Hy het eers ‘n praktyk by die Mediclinic in Potchefstroom gehad voordat hy in 2022 sy praktyk by Mediclinic in Bloemfontein oopgemaak het.

De Jager is in Oktober verlede jaar met kanker gediagnoseer waarna hy chemoterapie ondergaan het. Hy het daarna volkome herstel en was kankervry toe hy sowat twee en ‘n half weke gelede siek geword het. Elsabé sê hy is erg aangetas deur gordelroos en die inflammasie het vinnig deur sy liggaam versprei. Hy is op Maandag 9 Maart in die hospitaal opgeneem waarna hy al sieker geword het totdat hy daar oorlede is.

“Dit was vir ons ‘n groot skok, veral nadat ons gehoor het dat dit soveel beter gaan en dat hy kankervry is.”

Dr. Ludwig de Jager en sy vrou, Elsabé, het die afgelope 4 jaar weer in Bloemfontein gebly ná sowat 18 jaar in Kanada.
Dr. Ludwig de Jager en sy vrou, Elsabé, het die afgelope 4 jaar weer in Bloemfontein gebly ná sowat 18 jaar in Kanada.

Sy sê Ludwig het weer voluit begin werk ná die kankerbehandeling, voordat hy so skielik weer siek geword het.

“Wat kosbaar is, is dat ons Dinsdag tyd gehad om afskeid te neem. Dit was baie spesiaal. Hy het vir my gesê die laaste vier jaar hier in Bloemfontein was die gelukkigste jare van sy lewe.”

Elsabé sê Ludwig laat ‘n baie groter nalatenskap as die 68 jaar van sy lewe. “In die byna 35 jaar wat ons getroud was, het ons ‘n leeftyd se herinneringe gemaak.”

Die egpaar se twee dogters Heidi de Jager (34) en haar man, Rhys Davies, en Carlie de Jager (29) kom volgende week uit Kanada in Bloemfontein aan vir hul pa se gedenkdiens.

Die diens vind op Saterdag 28 Maart om 11:00 in die NG kerk Berg-en-Dal in Dan Pienaar plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article