Die Vrystaatse begroting stel die onderhoud van die staatsdiens bo ontwikkeling van die provinsie.
Dit is die mening van Tammy Breedt, VF Plus Vrystaatse lid van die parlement in die Nasionale Raad van Provinsies.
Sy sê ‘n ontstellende 65% van die provinsie se begroting vir die 2026/27-finansiële jaar wat Dinsdag 17 Maart in die Bloemfonteinse stadsaal voorgehou is, gaan aan salarisse, terwyl die sektore wat werklik ekonomiese groei kan dryf, afgeskeep word.
Landbou, wat sentraal staan tot voedselsekerheid en werkskepping, ontvang slegs 2,3% van die begroting met ’n skamele R5 miljoen wat geprioritiseer is vir die bek-en-klouseerkrisis.
Breedt sê hoewel dit positief is dat die LUR vir landbou, Elzabe Rockman, sigbaar op grondvlak betrokke is, bly die realiteit dat die beskikbare hulpbronne eenvoudig nie voldoende is om die omvang van die krisis daadwerklik aan te spreek nie.
“Intussen verkeer byna die helfte van die Vrystaat se munisipaliteite onder administrasie. Tog kry hul herstel geen doelgerigte prioriteit in die begroting nie. Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ontvang slegs 1% van die begroting. Dit is ’n duidelike teken dat die kern van plaaslike regeringskrisisse nie met die nodige erns behandel word nie.
“Fondse vir padinstandhouding neem oor die mediumtermyn gemiddeld met 8,7% af. Hierdie geld word geherprioritiseer na die sogenaamde Presidensiële Werkskeppings- en Stimuleringsinisiatief (Pesi) – ’n program wat min tot geen werkskepping in Suid-Afrika gestimuleer het nie.
“Dit beteken dat fondse in ’n bodemlose put belê word ten koste van paaie en infrastruktuur. Dit ondermyn ekonomiese groei wat dit vir ondernemings en inwoners al hoe moeiliker maak om normaal te funksioneer.”
Breedt sê die nuutste begroting spreek nie die oorsake van die Vrystaat se probleme aan nie; dit bestuur bloot die gevolge daarvan, terwyl die provinsie se ekonomie verder verswak.
“Eindelik betaal inwoners die prys vir ’n regering wat homself beskerm, terwyl infrastruktuur verval en die Vrystaat se ekonomie stadig verstik.”





