VrystaatKroon

Departement bevestig 10 nuwe gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat

,
Bek-en-klouseer bly ’n bedreiging vir veeboere in die Vrystaat, Vrydag 13 Maart is tien nuwe gevalle in die provinsie bevestig.
Bek-en-klouseer bly ’n bedreiging vir veeboere in die Vrystaat, Vrydag 13 Maart is tien nuwe gevalle in die provinsie bevestig. FOTO: Madli Grobbelaar

Die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het vandeesweek 10 nuwe gevalle van bek-en-klouseer (BKS) in die provinsie bevestig. Dit bring die totale van bevestigde gevalle op 396 te staan. 

Volgens ’n verklaring wat op Vrydag 13 Maart uitgereik is, is die jongste gevalle in die Boshof- en Bultfontein-omgewing (1), Reitz en Lindley (1), Bethlehem (3), Vrede en Memel (1), Marquard en Senekal (3), en Smithfield en Rouxville (1) aangemeld.

Gevalle is nou in 17 plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat aangeteken. Die meeste gevalle is in die Viljoenskroon- en Vredefort-gebied aangemeld, waar 63 gevalle bevestig is.

Ander swaar getrefde gebiede sluit Parys en Vredefort met 50 gevalle, asook Sasolburg en Deneysville in die Metsimaholo-munisipaliteit met 46 gevalle, in. Ander dorpe wat geraak is, sluit Frankfort, Cornelia en Villiers met 30 gevalle, Marquard en Senekal met 20 gevalle, Reitz en Lindley met 20 gevalle, en Vrede en Memel met 19 gevalle in.

Dorpe met minder gevalle sluit in Welkom, Odendaalsrus, Ventersburg, Bothaville, Ladybrand, Edenburg, Reddersburg en Bloemfontein.  Om die verspreiding van die siekte te beperk, het die departement sy inentingsveldtog verskerp.

’n Besending van 200 000 dosisse van die Biogenesis Bago-entstof is op 25 Februarie ontvang, gevolg deur 195 000 dosisse van die Dollvet-entstof op Donderdag 12 Maart. Die inentingsveldtog is reeds sedert einde Februarie in al vyf distrikte van die provinsie van stapel gestuur. 

Tot dusver is 86 611 beeste met die Biogenesis Bago-entstof ingeënt. Die inentings word gratis verskaf, maar die departement sê die aanvraag is baie hoog. Gevolglik fokus die eerste fase van die program hoofsaaklik op hoë-risikogebiede. Boere word steeds aangemoedig om aansoek te doen vir inenting, aangesien hierdie inligting die departement help om toekomstige fases van die inentingsprogram te beplan en die nodige hoeveelheid entstof te bepaal. 

Streng siektebeheermaatreëls bly intussen van krag. Plase binne ’n 10 km-radius van besmette plase is onder bewegingsbeperkings geplaas, terwyl besmette plase onder volledige kwarantyn bly. Naburige plase is ook onder voorsorgkwarantyn geplaas terwyl toesigspanne verdere ondersoeke doen om moontlike verspreiding van die siekte te bepaal. 

Die departement het egter sy kommer uitgespreek oor ’n toename in boere wat vermoedelike gevalle nie rapporteer nie. Amptenare waarsku dat dit ’n strafbare oortreding is en pogings om die uitbreking te beheer ernstig kan belemmer.

Daar is ook kommer dat sommige boere nie meer streng biosekuriteitsmaatreëls nakom nie, wat die risiko verhoog dat die virus na ander plase kan versprei. Boere, veilingsorganiseerders en veehandelaars word daarom aangemoedig om die beweging van gesplete-hoefdiere te beperk, voertuie en toerusting deeglik te ontsmet, nuwe vee vir 28 dae te kwarantyn, akkurate rekords van dierebewegings en plaasbesoekers te hou, en enige vermoedelike gevalle onmiddellik by die naaste staatsveeartsenykantoor aan te meld.

Die departement beklemtoon dat die beweging van diere vanaf plase wat onder kwarantyn is sonder die nodige dokumentasie ’n kriminele oortreding bly. Owerhede doen ’n beroep op boere en rolspelers in die landboubedryf om saam te werk en kwarantynregulasies streng na te kom om die provinsie se veebedryf te beskerm en die verspreiding van bek-en-klouseer te beperk.

LEES OOK: Bek-en-klouseer

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article