Met Internasionale Kinderkankerdag wat op 15 Februarie gevier word, het Bloemfonteinse nood- en veiligheidsdienste op Woensdag 11 Februarie ‘n massapatrolie met loeiende sirenes en flikkerende ligte na die Universitas- Akademiese Hospitaal onderneem.
Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum in Bloemfontein, sê dit is vanjaar die vyfde jaar waarop dié inisiatief wat deur AfriForum Uitsig-buurtwag begin is, aangebied word.
“Daar sluit elke jaar meer mense by ons aan om hierdie dag vir die kinders spesiaal te maak,” sê hy.

Die optog word ten bate van siek kinders wat vir kanker in die Universitas- en Nasionale Hospitale in die stad behandeling ontvang, asook die kinders en hul ouers wat in die huis van Childhood Cancer Foundation South Africa (CHOC) gehuisves word, aangebied.
Sonet van Zyl, streeksbestuurder van CHOC, sê die bewusmakingsoptog is ‘n droom van haar wat waar geword het.
“Ek het een aand in die bed gelê en toe hoor ek ‘n ambulans. Ambulanse en noodvoertuie is ‘n teken van hoop. Hierdie optog maak mense bewus van die greep wat kanker op gesinne met siek kinders het, maar gee hulle ook hoop. “
Sy sê die samekoms wys vir die siek kinders dat die gemeenskap vir hulle omgee. “Kinderkanker is ‘n werklikheid. Wanneer ouers hoor dat hul kind kanker het, dan gooi dit die hele appelkar om. Dit is nie net erg vir die kind en sy ouers nie, maar ook vir die kind se broers en susters. Mamma en boetie of sussie is soms lank in Bloemfontein terwyl die kind behandeling ontvang. Dit is swaar vir die gesin. Daarom bied CHOC ‘n tuiste vir dié kinders en ‘n ouer wat saam reis van ver af.”
Een so kind wat Woensdag breed geglimlag het oor teddiebere wat sy ontvang het, is Amohela Motshape (3) van Sasolburg. Haar ouma Paulena Motshape bly saam met haar by die CHOC-huis terwyl Amo daagliks bestralingsterapie in die Nasionaal hospitaal ondergaan.
Nogtans glimlag die mooi meisie en druk haar nuwe teddies styf teen haar bors vas.

Groenewald sê die projek is begin om kinders wat met kanker gediagnoseer is – asook hul families – met hoop, omgee en daadwerklike ondersteuning te omring. Wat begin het as ’n inisiatief om bewusmaking te skep, het gegroei tot ’n kragtige boodskap van eenheid: Geen gesin staan alleen nie.
“Die massapatrollie ter ere van hierdie ongelooflike dapper jong vegters was meer as net ’n bewusmaking. Dit was ’n sigbare bewys van ’n gemeenskap wat saamstaan. Dit was ’n dag waar elke deelnemer en ondersteuner gewys het dat liefde sterker is as vrees, en dat hoop altyd bly voortleef.”
Hy het sy dank uitgespreek teenoor elke verpleegster, terapeut, dokter en maatskaplike werker wat daagliks saam met hierdie kinders en hul families die stryd teen kanker aanpak.
“Julle is die stille helde wat met kundigheid, deernis en onwrikbare toewyding hoop bring waar dit die nodigste is. Ons bid dat julle altyd met nuwe moed vervul sal word, en dat God se krag, wysheid en genade julle elke dag sal beskerm en versterk.”
Die gemeenskap kan nog ‘n bydra maak tot die werk wat CHOC doen met die nasionale Flip Flop-dag wat op 20 Februarie gevier word. Koop ‘n plakker teen R10 by CHOC of by Tekkie Town en dra jou plakkies volgende Vrydag om CHOC te ondersteun.






You must be logged in to post a comment.