BLOEMFONTEIN – Die veearts van Kroonstad JW Eksteen (51) wat Maandag 9 Februarie in ‘n fratsongeluk in ‘n boma op ‘n wildsplaas by Clocolan ernstig deur ‘n buffel beseer is, was binne 45 minute vandat hy in Bloemfontein geland het, in die teater.
Eksteen is eers na drs. Joubert en Beeton na Clocolan geneem waar hy gestabiliseer is.
Valencia Swarts, woordvoerder van die Mediclinic Bloemfontein, sê die span van ER24 en die trauma-afdeling van die hospitaal was voorbereid op Eksteen se aankoms en alles het glad verloop om hom so vinnig moontlik die behandeling te gee wat nodig is.
Lucas Bezuidenhout, takbestuurder van ER24 in Bloemfontein, sê hulle het Maandag ongeveer 12:00 die oproep uit Clocolan gekry dat daar ‘n helikopter gesoek word om ‘n ernstig beseerde man na die hospitaal in Bloemfontein te bring.
“Ons het met Frans Human gereël wat inderhaas ‘n landingsplek op die St Andrew-skool se sportvelde gereed gemaak het.”
Dr. Braam Joubert het saam met die erg beseerde Eksteen in die helikopter na Bloemfontein gereis.
Bezuidenhout sê met hul aankoms, is die pasiënt vinnig na die ambulans afgevoer en toe hulle by Mediclinic se noodgevalle-afdeling kom, was die span reeds gereed.
Dr. Ise Fourie, hoof van Mediclinic se noodgevalle-afdeling, sê die hele span het soos ‘n geoliede masjien gewerk om die pasiënt so gou moontlik in die teater te kry. Dr. Emmanual Arko-Cobbah, die trauma-chrirug was ook binne minute by die hospitaal.
Eksteen was teen Woensdag kritiek, maar stabiel.
LEES OOK: Leeu-aanval het aanloop
‘n Familievriend Danie Minnaar sê hulle weet nog nie presies wat gebeur het nie. “Die familie wil graag hul opregte dank uitspreek aan drs. Joubert en Beeton, ER24 en die dokters en personeel van Mediclinic Bloemfontein vir hul uitstekende diens en versorging van JW.
“Dankie ook vir al die gebede, boodskappe en ondersteuning wat ons ontvang het. Dit beteken vir ons as familie ongelooflik baie.
“Die familie versoek ook asb dat hul privaatheid in hierdie moeilike tyd respekteer word en hulle kans gegun word om op JW se behandeling en herstel te fokus,” het Minnaar laat weet.




