Lourierpark
Werk wat die Mangaung-metro op die grondgebied tussen Bloemdal en Lourierpark begin het, moes gestaak word weens ‘n hofbevel.FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Die gemeenskap soek antwoorde by die Mangaung-metro wat begin het met onwettige en voortydige voorbereiding van grond vir besetting rondom Lourierpark buite die stad.

Die DA in Mangaung het die Vrystaatse Hooggeregshof genader vir dringende ingryping in die saak.

Greg van Noord, DA-wyksraadslid in dié deel van Bloemfontein wat Lourierpark, Bloemdal en Ferreira insluit, sê die stap kom nadat die munisipaliteit nie bevredigende antwoorde kon verskaf oor die ontwikkeling wat die afgelope tyd daar plaasvind nie.

Een van die talle onwettige strukture op die grondgebied tussen Lourierpark en Bloemdal. FOTO: Lientjie Mentz
Een van die talle onwettige strukture op die grondgebied tussen Lourierpark en Bloemdal buite Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz

Die werk wat nou daar gedoen word minag ‘n tussentydse hoogeregshofbevel wat in Maart 2024 toegestaan is wat die afwesigheid van grootmaatdienste bevestig. Ten spyte daarvaan gaan die munisipaliteit nou voort met aktiwiteite wat die indruk skep dat besetting moontlik gemaak word.

Die grond word nou voorberei met die skepping van informele toegangsroetes waar geen grootmaatwater- elektrisiteits- en rioolinfrastruktuur bestaan nie.

Jurg van Aswegen, voorsitter van die Bloemdal-buurtwagvereniging, sê die aktiwiteite het die afgelope week begin. Hy sê die aantal onwettige nedersettings in die gebied langs Lourierpark het nie vermeerder nie, maar daar is by talle aangebou.

Hy sê vandat die onwettige nedersetters hulle hier in 2024 tuisgemaak het, het misdaad in die gebied met 300% gestyg.

“Daar is geld om dorpsontwikkeling hier te doen, terwyl inwoners al van 2010 vra dat Dennelaan en ander paaie in die omgewing opgeknap word, ” sê Van Aswegen.

Van Noord sê die ANC-metro, wil hiermee nog ‘n informele nedersetting van mense byvoeg tot die 52 ander in Mangaung waar inwoners al jare wag vir die waardigheid van basiese dienste. “Die DA se hooggeregshofaansoek poog om enige onwettige besetting te onderskep en die munisipaliteit te dwing om aan sy grondwetlike, statutêre en hofopgelegde verpligtinge rakende toegang tot voldoende behuising te voldoen.

LEES OOK: Krisis om grondgrype by Lourierpark in Bloemfontein duur voort

“Hierdie aansoek word nie ligtelik gebring nie. Dit word gedryf deur ‘n gedragspatroon wat wettige beplanningsprosesse, omgewingsimpakstudies, vereistes vir openbare deelname, en die waardigheid en veiligheid van kwesbare inwoners ignoreer.

“Hierdie saak gaan fundamenteel oor die oppergesag van die reg en wettige behuisingslewering, nie toegang tot grond nie. Die ANC hou aan om hierdie kwessies doelbewus te vermeng om sy eie mislukkings en tekortkominge te verbloem.

“Die huisvesting van mense op leë, onbediende grond sonder wettige dorpstigting, ingenieursdienste of beplanningsgoedkeuring tel nie as behuising nie.

“Dit vestig vernedering, skep langtermynkrisisse in dienslewering, en is direk in stryd met die Grondwet en nasionale behuisingsbeleid. Artikel 26 van die Grondwet voorsien toegang tot voldoende behuising, nie informele bewoning wat deur administratiewe kortpaaie bewerkstellig word nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article