Die OG se verslag wat Donderdag 29 Februarie in die raad gedien het, wys talle tekortkominge.

Die ouditeur-generaal (OG) het bevind dat die Mangaung-metro R285 miljoen in voorwaardelike toelae nie bestee het nie.

Dié geld was beskikbaar en kon gebruik word om waterverliese te verminder, paaie te herstel, stormwaterstelsels op te knap, vullisverwydering te verbeter en kritieke infrastruktuur te herstel, sê Henry Denner, VF Plus-raadslid van Bloemfontein.

“Terwyl inwoners sonder betroubare water- en elektrisiteitsverskaffing, veilige paaie en gereelde vullisverwydering sit, wys die OG-verslag dat slegs 50% van diensleweringteikens bereik is; dit terwyl meer as 113% van die volle begroting bestee is. Dit is nie ‘n tekort aan geld nie, maar ‘n tekort aan bekwaamheid, dissipline en politieke wil.”

Hy sê die onbestede R285 miljoen kon verligting gebring het wat betref Centlec se verouderde netwerk wat kragonderbrekings meebring en onder instandhouding-agterstande gebuk gaan, wat ‘n onregverdige las op inwoners en ondernemings plaas.

Intussen het die stadsbestuurder, Sello More, in ‘n brief aan werknemers verduidelik dat die metro in Desember twee briewe ontvang het wat inwoners ontstig.

Die eerste is die staatskoerant-skrywe van die departement van same-werkende regering en tradisionele sake (Cogta) oor die afgradering van die metro van vlak 7- na vlak 6-munisipaliteit weens verminderde inkomste.

More sê in die verslag Cogta het Centlec uitgesluit, wat tot die afgradering gelei het.

“Wanneer Centlec as ‘n entiteit van die metro ingesluit is, staan die metro slegs twee punte onder ‘n vlak 8-gradering.”

More sê die metro het ook in Desember ‘n brief van die Nasionale Tesourie ontvang in verband met die moontlike weerhouding van finansiering.

“Dit sou ‘n ernstige risiko vir die stad se finansiële bestuur inhou, wat insluit die metro se vermoë om salarisse te bestuur.”

Hy verduidelik ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes word deur ‘n beperkte begroting veroorsaak.

“Sodra die beskikbare geld vir ‘n opdrag op is, word ongemagtigde uitgawes gebruik. Dienste soos die skoonmaak van BBP-toilette word slegs deur ‘n klein groepie verskaffers gedoen, waarvan baie onwillig is om te registreer op die sentrale verskaffingsdatabasis, of wil deelneem aan die nasionale tenderprosesse.

“Dit is in sulke gevalle dat die betaling van onreëlmatige uitgawes moet plaasvind,” verduidelik hy.

Wat geld vanaf die nasionale tesourie betref, sê die stadsbestuurder dat daar geld streng tydlyne vir nakoming van korrektiewe stappe is; wanneer nie binne die tydraamwerk gehou word nie, kan dit na die weerhouding van finansiering lei. Daarom versoek hy personeel om binne die oudit-aksieplan te bly om die stad se geldelik volhoubare toekoms te verseker.

Denner sê ‘n regering wat nie geoormerkte geld kan aanwend nie, kan eenvoudig nie vertrou word om ‘n stad te bestuur nie. Hy meen Mangaung se krisis is die direkte gevolg van jare se ANC-wanbestuur.

“Mangaung se inwoners het nie nog planne en verskonings nodig nie, maar leierskap wat dienslewering eerste stel en belastingbetalers se geld verantwoordelik bestuur.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article