Die Mangaung-metro se gesloer om ‘n ooreenkoms te bereik veroorsaak dat die Toyota-stadion nie vir toetse oorweeg word nie.

Die Mangaung-metro se gesloer om ’n ooreenkoms met die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) vir die gebruik van die Vrystaat-stadion te finaliseer, kos Bloemfontein miljoene en beroof die stad van die geleentheid om weer toetswedstryde aan te bied.

Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse Wetgewer sê die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, moes Dinsdag 25 November aan die Vrystaatse wetgewer verslag doen oor die vordering met die ooreenkoms, maar was duidelik onvoorbereid en kon geen terugvoer gee nie.

’n Ooreenkoms moes reeds voor die Mangaung-metroraad gedien het om bekragtig te word, maar dit het eenvoudig nie gebeur nie.

Die Toyota-stadion in Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz

Die VF Plus sal nou die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie versoek om toe te tree om die ooreenkoms met die metro te versnel.

Die verbetering van die Vrystaat-stadion om weer toetswedstryde aan te bied, is afhanklik van hierdie nuwe ooreenkoms tussen die metro en die unie nadat die vorige een tot ’n einde gekom het. Daar is ook nog geen eenstemmigheid oor die agterstallige munisipale skuld van die unie nie.

Die Vrystaat-stadion is vroeër vanjaar na ’n C-klas-stadion afgegradeer en word gevolglik nie meer vir toetswedstryde oorweeg nie. Internasionale toetsrugby is ’n groot ekonomiese inspuiting vir Bloemfontein, en die verlies daarvan is ’n ernstige terugslag vir die stad.

“Nthatisi en sy administrasie se gesloer is ’n klap in die gesig van die provinsie se rugby-ondersteuners wat nie die geleentheid gegun word om internasionale wedstryde by te woon nie.

“Die huidige gesloer dui op ‘n metro wat onder ANC-wanbestuur verval het en selfs met ’n artikel 139-intervensie nie omgekeer kan word nie,” sê Cloete.

“Die VF Plus dring daarop aan dat die metro alles in sy vermoë doen om die stadion weer gereed te kry vir internasionale rugby.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article