Franco de Wet met klein Mia Colette. FOTO: Verskaf

‘n Maand en ‘n half gelede is ‘n kosbare dogtertjie vir twee oud-Bloemfonteiners Franco en Corlea de Wet in Shanghai, China, gebore.

“Ons het lank vir haar gewag,” vertel Franco, ‘n oudleerling van Grey-kollege wat tydens die erge grendeltydperk in 2022 met Corlea getroud is.

Kort na die geboorte van Mia Cosette de Wet op 29 September, moes die egpaar egter uitvind hul dogter het ‘n genetiese siekte genaamd Krabbe-siekte. Dit is ‘n seldsame genetiese opbergingsversteurnis.

Trotse ouers Corlea en Franco de Wet met klein Mia Cosette de Wet.

Dié egpaar is albei drama-onderwysers by internasionale skole in dié Chinese stad.

“Die nuus het ons geruk,” vertel Franco. “Daar is intussen baie toetse gedoen om te bevestig dat sy die siekte het.”

Daar is geen kuur vir die siekte nie, maar daar is hoop in die vorm van ‘n stamseloorplanting. Franco sê die prosedure sal die groei van die siekte vertraag en hul dogter ‘n kans gee op ‘n normale lewe.

“Gelukkig bly ons in ‘n stad met een van die beste kinderhospitale in die wêreld, wat ook voorheen kinders vir die siekte behandel het,” sê Franco.

Mia se oupa – die radio-omroeper Jaco de Wet wat deesdae in Somerset-Wes woon – was in Shanghai toe Mia gebore is. Hy vertel die skandering van Krabbe-siekte, ‘n baie skaars toestand, word as standaard prosedure by alle babas met geboorte in China gedoen. Dit is hoe hulle van die siekte bewus geword het, met klein Mia wat nog geen simptome wys nie.

Oupa Jaco de Wet met klein Mia in die De Wet-egpaar se woonstel in Shanghai, China.

Met hul familie wat almal in Suid-Afrika is, is dit moeilik om die jong egpaar fisiek te ondersteun, maar hulle het wonderlike vriende. “Vandat ons gehoor het Corlea is swanger, het ons vriende ons ondersteun en vir ons babaklere en doeke aangedra. Dit is ‘n hele gemeenskap van Suid-Afrikaners en buitelanders en ons almal se familie is ver, so ons is mekaar se familie.”

Franco sê hulle is reeds geseën met skenkings wat gaan help om die operasie, wat net minder as
R1 miljoen gaan kos, moontlik te maak. Hoewel hulle ‘n private siekefonds het, betaal dié fonds slegs ‘n gedeelte van dié operasie. Hulle het intussen begin met skarebefondsing soos Backabuddy en GoFundMe om die res van die geld in te samel.

Toetse word gedoen op klein Mia Cosette de Wet.

Jaco gaan op 15 Desember ‘n Bingo-aand in Bloemfontein aanbied om geld vir klein Mia in te samel. “Ek het al honderde Bingo-aande aangebied en ek vlieg die afgelope twee jaar Bloemfontein toe om ‘n aand vir die Laerskool Onze Rust aan te bied. Nou gaan ons Maandag 15 Desember, net voor die vakansiedag, weer so maak en ons gaan groot pret hê,” sê hy.

Kaarties vir die Bingo-aand kos R250 wat ‘n ligte ete insluit.

Bespreek solank deur ‘n WhatsApp na 083 391 0900 te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article