Bloemfonteinse kinderboekskrywer Jaco Jacobs het nog twee pryse by sy versameling vir uitmuntende Afrikaanse kinderboeke gevoeg.
Die pryse is vir die ATKV se jaarlikse Woordveertjies vir kinderboekpryse.
Die ATKV-Kinderboekeerbewyse word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het, te bekroon. Die beoordelaars is jong lesers self, iets wat hierdie eerbewys van ander onderskei.
Jong kinders se keuse vir die selflees-kategorie vir gr 2 en 3, was Jaco se Stink Sokkies. Die illustrasies vir die boek is gedoen deur Patrick Latimer en die boek is deur Pan Macmillan Suid-Afrika uitgegee.

In die afdeling vir gr. 4 en 5 was Jaco se boek Minki se verjaardag die wenboek volgens die kinders.
Jaco het al 38 Woordveertjies gewen. “Die prys is superspesiaal, omdat kinders self stem vir die wenboeke,” sê hy. “Volwassenes se mening tel nie hier nie.”

Die ander wenners was:
- Voorleeskategorie gr. RR tot gr. 1: Zuléka Smit en die illustreerder Johan Strauss vir Ben en die Boelies uitgegee deur LUCA.
- Selfleeskategorie gr. 4 tot 5: Illustreerder Emily House vir Jani Jonker gloei in die donker deur Lapa-uitgewers.
- Selfleeskategorie gr. 6 tot 7: Eleanor Lombard se boek Vasbyt Vyf: Die ontvoering, uitgegee deur Lapa-uitgewers.
- Selfleeskategorie 8 tot 9: An-Mari do Carmo se boek Foto’s en fairy lights uitgegee deur Human & Rousseau.
Twee lesers van BloemNuus staan die kans om elk ‘n getekende wenboek van Jaco Jacobs te wen. Skryf op Bloemnuus se Kommentaar die kind se naam, ouderdom en of hy Stink Sokkies of Minki se verjaardag wil wen.






You must be logged in to post a comment.