Inwoners van Wilcocksweg in Bayswater vra dringende optrede ná die hoeveelste ongeluk in dié besige straat in Bloemfontein.
Dit kom ná ‘n ongeluk op Donderdag 4 September, waarin ‘n voetganger doodgery is en die bestuurder van die voertuig weggejaag het.
Twee van die inwoners, Sakkie Raath en Lampies Lamprecht, sê motors jaag teen ‘n groot spoed hier by hul huise aan die onderpunt van die straat verby.
Boonop is daar ‘n knikkie in die teerpad sowat 100m van hul huise, waar bestuurders wat te vinnig ry waarskynlik beheer verloor.
Raath sê sedert 1995 was daar al menige ongeluk op die stuk pad tussen Gladstoneweg en die verkeersirkel in Raymond Mhlabastraat.

“In 2012 het ‘n motor deur my heining gery, my palmboom omgery en dit het op Lampies se huis beland. Ek moes sedertdien van al my bome op die sypaadjie ontslae raak omdat dit gereeld omgery word.”
Raath het ‘n kringtelevisie-kamera wat al vele ongelukke afgeneem het. In een het die bestuurder van ‘n bakkie wat werkers vervoer het, beheer verloor, en die werkers het afgeval.
In ‘n brief aan die uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, vra VF Plus-raadslid Elizabeth Snyman-Van Deventer dat die metro dringend ingryp om toekomstige lewensverliese te voorkom.
Sy vra dat die metro dit oorweeg om ‘n verkeersirkel op die kruising van Gladstoneweg en Wilcocks te bou, om motoriste te dwing om stadiger daar te ry.

Die versoek is reeds in 2022 aan die waarnemende stadsbestuurder gestuur, maar sedertdien is al die amptenare wat in die brief aangespreek word, vervang.
In haar brief in 2022 sê Snyman-Van Deventer dat daar op 2 September 2022 twee kettingbotsings was waarin drie motors elk betrokke was, en ‘n derde waarin twee motors betrokke was. Hiervan is ook video-materiaal.
“Dit is nie net gevaarlik vir ander padgebruikers nie; daar is ook heelwat kinders van vyf skole in die omgewing wat gereeld hier die pad oorsteek,” sê sy.
“Daar is geen voetoorgang vir die kinders nie.”
Benewens die spoed waarteen talle motoriste hier ry, word die gevaar verhoog deur ‘n tekort aan verkeersmerke.
Raath verduidelik die stormwaterdreinering is verstop en wanneer dit reën, dam water in Wilcocks op en veroorsaak verdere risiko’s vir padgebruikers.
Snyman-Van Deventer het die burgemeester genooi om saam met haar die plek te besoek waar hulle voorstel die verkeersirkel gebou moet word.






You must be logged in to post a comment.