Uitvoering van ‘n langtermynplan om weer kameelperde in die Franklin-reservaat op Naval Hill te vestig het op Saterdag 6 September begin, met die plant van 50 inheemse bome.
Lede van die publiek is genooi om die bome, geskenk deur Willard Batterye, naby die dammetjie by die planetarium op Naval Hill te plant.
Personeel van die Mangaung-metro het vooraf groot genoeg gate gegrawe, waarin die bome Saterdag deur groepe en individue geplant is.
Dr. Andri Grobbelaar, voorsitter van Vriende van Franklin en dosent aan die departement weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se landboufakulteit, sê ná die dood van die vier kameelperde in die reservaat is dit nou die perfekte tyd om bome te plant.
“Ons is baie hartseer dat die kameelperde gevrek het − die twee bulle wat tot die dood baklei het, en die twee koeie wat deur plante vergiftig is − maar ons sou glad nie dié jong bome kon plant terwyl hulle nog hier was nie,” verduidelik sy.
Sy sê die diere wat nou in die reservaat is, sal nie skade aan die bome aanrig nie, en dit sal die bome tyd gee om te groei totdat hulle goed gevestig is.
Onder die 50 inheemse bome is soetdoring, karee en olienhout.
“Dit is die voorkeurkos van kameelperde.”
Grobbelaar het gehoor dat Willard Batterye soortgelyke projekte in Gauteng onderneem het, en het dié sakeonderneming genader om te hoor of daar belangstelling sou wees om by ‘n boomplantdag op Naval Hill betrokke te raak.
“Hulle het dadelik ingestem, en ons is dankbaar vir die reuse-hulp in die vorm van die skenking van die bome wat geplant kon word.”
Grobbelaar sê as alles goed gaan, hoop hulle om oor so vier jaar weer twee kameelperde op Naval Hill te vestig.








You must be logged in to post a comment.