Replikas van ikoniese geboue op die terrein van Grey-kollege is met Lego gebou en gaan op 'n Manne-aand by die skool opgeveil word.
‘n Model gebou van Lego-blokkies is op ‘n veiling van Grey-kollege se Tommix te koop. Foto: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN Oud-leerlinge van Grey-kollege kry vandeesweek die geleentheid om iets van hul skooldae te beleef met ‘n Lego-weergawe van geboue by dié geskiedkundige skool in Bloemfontein.

Tommix, Grey-kollege se rugby-program, bied Donderdag 14 Augustus ‘n Manne-aand aan met 20 items wat ten bate van rugby by die skool opgeveil gaan word.

Die Lego-modelle van die skool se hoofgebou, ‘n model van Andrew Murray-huis (Brill-huis lyk presies dieselfde) en ‘n model van die skool se bekende Tuck Shop asook ‘n skoolwapen is spesiaal vir die veiling gebou.

Leon Mentz (links) en Robert Ebersohn by die Lego-model van die Andrew Murray-huis wat by ‘n Manne-aand by Grey-kollege opgeveil gaan word. Foto’s: Lientjie Mentz

Robert Ebersohn van Tommix, sê die gedagte aan die geboue van Lego het ontstaan terwyl hy saam met sy kinders blokkies gebou het.

Hy het vir Leon Mentz van Piece Together wat Lego verkoop en wat ook verbonde is aan Grey se musiek-afdeling, gevra om dié reuse projek te voltooi.

Mentz sê hy en sy vrou, Charlotte, het sowat 150 ure uitgesprei oor vier maande geneem om die drie modelle en die skild te bou. “Dit was ‘n reuse-taak, maar ons het dit baie geniet. Ek sal nogal graag in die toekoms nog sulke projekte wil onderneem van geboue,” sê hy.

Hulle verkoop Saterdae Lego by die Langenhovenmark.

Die Andrew Murray-huis op Grey-kollege se skoolterrein. ‘n Lego-replika is van dié huis voltooi.

Ebersohn sê hy glo die Lego-modelle gaan goeie pryse op die veiling haal. Dit is nie net die manne wat die aand bywoon wat die kans staan om op hierdie stukke te bie nie, maar dit gaan ook tydens die geselligheid aanlyn aan kopers gebied word. Foto’s van die oulike Lego-modelle is na groepe oudleerlinge oor die wêreld heen gestuur.

‘n Lego-weergawe van Grey-kollege se ikoniese Tuck Shop.

“Lego is een van die toptien versamelaarsitems in die wêreld,” verduidelik Ebersohn. “Die geboue wat Leon-hulle met die blokkies gebou het, is gedenkwaardige geboue op die skoolterrein en almal is ouer as 100 jaar. Generasies van dieselfde familie het hier skoolgegaan en het mooi herinneringe aan hul tyd as leerlinge by Grey. Die mans wat hierdie modelle koop, koop iets wat baie spesiaal is. Nie net sal hulle ‘n unieke aandenking van die skool hê nie, maar kinders sal dit nog vir geslagte kan oorbou.”

Die winkel of Tuck Shop by Grey-kollege.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article