Die verhaal van Alice Dee Janse van Rensburg, wie se ouers haar probeer afsmeer aan die skatryk dog baie vervelige Japie, sal oud en jonk vermaak in The Rabbit Studio se vertoning Alice in Wonderland, a musical comedy.
Tydens Alice en Japie se ontmoeting, sien Alice ‘n haas in klere en besluit om dit te volg tot in ‘n gat wat lei na die ongelooflike en surrealistiese “Wonderland”. Hier ontmoet sy allerhande wesens, insluitende ‘n pratende deur, ‘n ruspe wat borreltjies blaas, ‘n blom met gehoorprobleme en ‘n mal hoedemaker. Hierdie gedroggies vertel haar van die nare Queen of Hearts, Megan, wat Wonderland wil oorneem deur almal in hegtenis te neem en hul land te vat.

Hul enigste hoop is Alice, wie bestem is om Queen Megan se groot en gevaarlike troeteldier (die Malemawalkie) te verslaan met die hulp van die legendariese swaard van Trump. Sal Alice Wonderland kan red, of gaan Queen Megan die heerser word?
Die stuk is gebaseer op die boek “Alice’s Adventures in Wonderland” deur Lewis Carrol, en is aangepas vir die verhoog deur Xander Steyn, met veranderings gemaak deur Jené Heymans en C.W. Laten.
Heymans en Laten wat die bestuur van die Rabbit Studio tydelik oorgeneem het terwyl Steyn in Kaapstad studeer, neem die regie van die stuk waar. Die hoofvertoning kos R100 en die vertonings vind op: Donderdag 11 Junie om 19:00, 12 Junie om 19:00 en Saterdag 13 Junie om 15:00 en weer om 18:00 plaas. Die vertoning vir die kindergroepe vind van 5 Junie tot 7 Junie plaas. Besoek rabbithouse.co.za/events vir besonderhede en kaartjies.







You must be logged in to post a comment.