‘n Jong Vrystaatse pluimbalster het drie titels op die Suid-Afrikaanse o.17-kampioenskapsbyeenkoms verwerf. Die byeenkoms is van 12 tot 19 Julie in Kaapstad gehou.
Aiden Dednam het slegs in die enkelspel-eindstryd sterk teenstand van die Gautenger Jordan van Tonder gekry. Hy het Jordan in die finaal met drie stelle verslaan.
In die dubbelspel en die gemengde dubbelspel het hy saam met sy Gautengse spanmaats gemaklik gewen.
Aiden is ingesluit in die Suid-Afrikaanse junior span wat einde Augustus aan die Afrika- junior kampioenskapsbyeenkoms in Kaïro gaan deelneem.
Slegs ‘n week later vind die wêreld- junior kampioenskapsbyeenkoms, ook in Kaïro, plaas.
Aiden is op die ouderdom van 14 jaar gereed om die wêreld se beste juniors aan te vat. Dit kan as ‘n reuse-voorsprong geag word dat hy in Bloemfontein teen kampioene soos Nita Scholtz en Caden Kakora kan oefen.
Aiden het reeds verskeie senior Suid-Afrikaanse spelers laat bontstaan en die Kaïro-ervaring kom op ‘n baie belangrike tyd in sy ontwikkeling.





