Leah van Niekerk (regs) kuier in Luckhoff.
Leah van Niekerk (regs) kuier in Luckhoff.

Lottoland help om Luckhoff op te kikker

,

Die eerste stopplek op kykNET se werklikheidsreeks Lottoland help ‘n dorp was Luckhoff, ‘n dorp tussen die heuwels in die Suid-Vrystaat.

Die vyfde reeks van die program wat dorpe deur die land heen besoek, het begin en in dié nuwe reeks gaan kykers vir twee episodes lank saam met aanbieder Leah van Niekerk in dieselfde dorp kuier.

Luckhoff in die Suid-Vrystaat.
Luckhoff in die Suid-Vrystaat. FOTO: Verskaf

Hope vernuwing wag in die nuwe reeks op ses dorpe. “Die droom van Lottoland help ’n dorp was dat ons klein dorpies kan help om hul droomprojekte te kan vervul,” het Maryke Haywood, bemarkingshoof van Lottoland SA oor die nuwe reeks te sê.

“Ja, hulp is hier bietjie nodig,” het Leah met haar aankoms in Luckhoff gesê.

Luckhoff in die Gariep-streek sowat 50km suid van Koffiefontein.
Luckhoff in die Gariep-streek sowat 50km suid van Koffiefontein. FOTO: Verskaf

“Luckhoff is ’n klein dorpie, met baie klein winkeltjies, kort stofstraatjies – maar as jy lank genoeg gaan stilstaan hier, gaan jy agterkom dis vol mense met baie groot harte,” het Estée Viljoen, voormalige stadsmeisie maar nou ‘n deeglik ingeburgerde projekleier, vir Leah verduidelik.

Dis einste die dorp waar daar toeka potjiekoskompetisies gehou is, kennetjie en albasters gespeel is en selfs ’n paar vensters vanweë goed-gemokerde krieketballe aan skerwe gespat het.

Passie-projekte

Daar is onder meer die tennisbane, dan ’n projek vir die gemeenskap met die belangrikste fokus op die kinders, die kerksentrum (die enigste bymekaarkomplek vir almal) en die hoofstraat.

Van jong handjies tot bejaard3es het gehelp om Luckhoff mooi te maak
Van jong handjies tot bejaard3es het gehelp om Luckhoff mooi te maak. FOTO: Verskaf

Dit was Estée se tweede probeerslag om vir Lottoland help ’n dorp in te skryf, maar hierdie keer was sy suksesvol. Wat ’n waardevolle les om nooit tou op te gooi nie. En toe sy die bedrag sien wat bewillig is, kon sy nie haar trane keer nie: R850 000 om hul droomprojekte mee te takel.

Hulle het agt weke gehad om die projekte af te handel, maar Lottoland help ’n dorp het na vier weke weer kom inloer om hul vordering te monitor.

Vier weke later

Chaos. Dis een manier om te beskryf wat tydens die eerste vier weke van die projek hoogty gevier het in Luckhoff.

Estée Viljoen (links) van Luckhoff saam met Leah van Niekerk tydens die verfilming van Lottoland help 'n dorp.
Estée Viljoen (links) van Luckhoff saam met Leah van Niekerk tydens die verfilming van Lottoland help ‘n dorp. FOTO: Verskaf

Vanweë die dorpie se afstand van groter sentrums, het dit lank geneem voordat die noodsaaklike produkte hul bestemming bereik het. Goeters het gebreek, kostes het gestyg en planne moes gewysig word.

In die pylvak

“Die dorp lyk ewe skielik of hy wakker word,” het Klaas Viljoen, ’n vrywilliger, opgemerk. En daar was baie hande wat saam “wakker geword het” . . . sagte jong handjies, verknokkelde hande vol eelte, kantoorhande en selfs familielede van elders is nadergehark.

Ja, Luckhoff se mense het gewys hoekom hierdie dorpie so ’n onblusbare omgee-gees het.

Leah van Niekerk kuier saam met inwoners van Luckhoff
Leah van Niekerk kuier saam met inwoners van Luckhoff. FOTO: Verskaf

Die laaste inloer

“Beautifully chaotic,” het Estée die afgelope 8 weke aan Leah verduidelik. En ja, daar was ’n tyd dat sy byna die handdoek wou ingooi. Tot waar sy die volgende dag al die aktiwiteite in die dorp gewaar het en besef het dit gaan nie oor haar nie, maar om hierdie lieflike gemeenskap weer te help om hoop te vind.

Die begroting

Die R850 000 wat geskenk is, is so onderverdeel – R205 000 is gebruik vir die hoofstraat, R115 000 vir die kerksentrum, R530 00 vir die tennisbane en huisie.

Lottoland help ‘n dorp word Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article