Jaco Jacobs
Die Bloemfonteinse kinderboek- en jeugverhaalskrywer Jaco Jacobs. FOTO: Verskaf

Kunstefees laat jonges ‘n bietjie belééf, weg van skerms

,

In ‘n wêreld wat ál meer digitaal word, is dit belangrik om te vra watter ervarings ons vir die volgende geslag skep.

Hoe verseker ons dat ons kinders en tieners met die regte wêreld verbind bly in ‘n tyd dat skerms, die sosiale media en kunsmatige intelligensie (KI) al hoe meer van hul aandag opeis?

Volgens die bekroonde jeugskrywer Jaco Jacobs, wat vanjaar sy 25ste jaar in die jeugboekbedryf vier en self pa van twee tieners is, speel kunstefeeste ‘n onmisbare rol om jongmense aan egte ervarings bloot te stel. Hy is baie nou betrokke by die Vrystaat Kunstefees.

“Die fees is ‘n fantastiese geleentheid om kinders aan teater, musiek en ander kunsvorme bekend te stel,” meen Jacobs.

“Maar dit is ook ‘n kans om kinders se oë van skerms weg te kry en hulle ‘n bietjie in die regte wêreld te laat leef. Die fees bied ‘n heerlike kans om tyd as gesin deur te bring. Regte, egte pret met niks daarvan kunsmatig nie.”

Jacobs waarsku ook teen die gevaar dat jongmense kreatiewe prosesse aan tegnologie kan afstaan. Een van die werksessies op vanjaar se fees fokus op kreatiewe skryfwerk vir kinders, iets wat volgens hom broodnodig is.

“Skryf gaan oor meer as skoolpunte en werkstukke. Dit gaan daaroor om jouself te leer verstaan, jouself te leer uitdruk, jou taal en talente te slyp, en met woorde jou stempel op die wêreld af te druk,” sê hy.

Hoewel Jacobs met KI eksperimenteer en die moontlikhede daarvan ondersoek, glo hy dit moet ‘n hulpmiddel bly en hoegenaamd nie ‘n plaasvervanger vir menslike kreatiwiteit nie.

“Jou kreatiwiteit, jou vermoë om te skep, jou mening en jou talent is die dinge wat jou in die toekoms gaan laat uitstaan bo die eenvormige KI-geskepte massas. Koester dit, slyp dit.”

Interessant genoeg sien hy reeds tekens van hoop in die volgende geslag.

“My kinders is baie KI-sku. Hulle verpes KI-geskepte beelde en musiek, en is van nature skepties oor inligting wat deur KI gegenereer is. Hopelik dui dit op ‘n geslag wat nie bereid is om KI sommer net vir soetkoek op te eet nie.”

Michael Garbett, feesdirekteur, sê kunstefeeste herinner ons dat jongmense meer nodig het as inhoud om te verbruik. Hulle het stories nodig om te beleef, kunstenaars om te ontmoet, gesprekke om deel van te wees en ervarings wat hulle inspireer.

“Eindelik is die kunste nie net vermaak nie. Dit help die volgende geslag se verbeelding, menslikheid en kreatiwiteit vorm.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article