BloemNuus stap al 44 jaar ‘n pad saam met die gemeenskap van Bloemfontein en omstreke, maar dit is nou tyd vir ‘n opwindende nuwe blaadjie.

Dit was juis die leemte van gemeenskapsnuus wat in dagblaaie ontbreek het, wat drie joernaliste by die destydse Volksblad genoop het om ‘n gratis, weeklikse koerant te begin.

Die bekende Afrikaanse skrywer Rudie van Rensburg en sy kollegas Emile Terblanche en Johan Coertzen het in Oktober 1982 BloemNuus gestig om daardie leemte te vul. Die koerant het aanvanklik elke twee weke verskyn en is saam met die DairyBelle-melkbottels by huise in die stad afgelewer.

In die afgelope vier dekades het BloemNuus berig oor hoogtepunte en laagtepunte in die gemeenskap, oor besonderse inwoners, oor groot gebeure.

Agter die skerms het dinge verander, soos toe BloemNuus deel geword het van Novus Media Gemeenskapsnuus, in 2024.

Nou gaan BloemNuus ‘n opwindende nuwe fase in om tred te hou met veranderende tye en die internasionale medialandskap.

Van volgende week af verskyn BloemNuus en haar susterskoerant BloemExpress saam in een, beter produk met ‘n groot rykwydte.

Dié nuwe produk, BloemNuusExpress gaan ‘n meer diverse nuusaanbieding hê met beter dekking van harde nuus, gemeenskapsprojekte, sportgebeure en nuus wat lesers in en om Bloemfontein raak.

Die nuwe produk, wat op 2 April verskyn, gaan steeds in Afrikaans en Engels wees.

Lesers en adverteerders kan verseker wees dat die span agter die nuwe, enkele gemeenskapskoerant vir Bloemfontein ‘n uitstekende produk gaan lewer.

Novus se gemeenskapskoerante lewer steeds ‘n gedrukte produk, wat ‘n belangrike taak verrig om die gemeenskap ingelig te hou, winskopies en spesiale aanbiedings onder lesers se aandag te bring en ‘n platform te bied waarom die gemeenskap kan verenig. Dit sal steeds ‘n produk uit die gemeenskap vir die gemeenskap wees.

Loer gerus na bloemnuus.co.za en na BloemNuus se Facebook-blad of stuur ‘n e-pos na lientjie.mentz@novusmedia.co.za en sê watter soort nuus jy meer in die nuwe gemeenskapskoerant wil lees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article