BloemNuusExpress het ter viering van Vrouemaand in Augustus gaan kuier by ‘n paar dinamiese jong vroue wat kreatief is en iets besonders vir die gemeenskap bied. Een so ‘n jong vrou is Anien van Niekerk, ‘n onderwyser en entrepreneur van Bloemfontein.

Sy het begin met ‘n potgooi om wetenskap in Afrikaans aan almal te bring.
Anien sê sy het aanvanklik gedink om ‘n paar van haar eie vrae deur kundiges te laat beantwoord en vir leerders ‘n platvorm te skep waarop hulle hul kennis oor wetenskap kan prikkel.
Kort ná haar potgooi Weet jy van wetenskap? begin het, het sy besef daar is net soveel volwassenes wat dié uitstendings geniet.
“Daar is beroepe waarvan kinders nog nooit eens gehoor het nie.
“Ek het met ‘n groot verskeidenheid wetenskaplikes en ander kundiges gesels om meer oor verskillende onderwerpe, beroepe en belangstellings te wete te kom,” vertel sy.
Sy het al meer as 18 opnames gemaak, waarvan ‘n nuwe een elke Vrydag gelaai word.
“Wanneer mense oor hul vakgebied of stokperdjie gesels, neem hul passie oor.
“Daar is soveel wat ‘n mens by elkeen kan leer.”
Anien sê danksy dié reeks het sy reeds soveel interessante mense ontmoet met nuuskierige vrae, interessante gesprekke en nuwe idees.
Baie kom terug om verder te gesels op ‘n ander episode.
Onderwerpe wissel van ‘n praatjie deur ‘n pediater, of onderwerpe soos forensiese patologie, soogdiere, spinnekoppe, fisioterapie, oogkunde, chemie en die donker web.
Anien sê almal wat belangstel in wetenskap kan inteken op die kanaal om só op datum te bly van die nuutste episodes.
Sy het ook al “playlists” gemaak sodat diegene wat meer oor ‘n spesifieke onderwerp wil leer, daar kan gaan soek.
“Van huisvlieë tot virusse, van sterrekunde tot rekenaars, en alles tussenin. Hier is dit moeilik om verveeld te raak,” skryf sy op haar YouTube-kanaal Weet jy van wetenskap?
“As jy nuuskierig is oor hoe die wêreld werk en hou daarvan om nuwe dinge te leer, is Weet jy van wetenskap? die regte plek.”
Gaan loer gerus self na die video’s en brei jou kennis saam met Anien uit.






You must be logged in to post a comment.