Hierdie vakansie kuier Hans Haas in Holland, en hy nooi al die maatjies om saam te kom.
Nie net bied Xander Art Productions van 9 tot 11 Julie ‘n splinternuwe vertoning aan nie, Xander Steyn stel ook sy boek bekend oor hoe Hans Haas sy dieremaats die eerste keer ontmoet het.

In die vertoning Hans Haas in Holland, wat by The Rabbit Studio te sien is, is Hans Haas se dieremaats op Haaslaagte. Hans kuier by sy ouma Helga in Holland en die dieremaats moet die dorp aan die gang hou deur oproepe te antwoord en te help waar hulle kan.
Morrie Meerkat se niggie, Mavis, kom help. Net soos haar neef, is Mavis ook vol stoute streke. Kom vind maar self uit wat alles gaan gebeur.
Die vertonings is op Donderdag 9 Julie om 14:00 en 16:00, 10 Julie om 14:00 en 16:00 en 11 Julie om 10:00 en 12:00. Kaartjies kos R100 en is op rabbithouse.co.za/events te koop.
Xander, wat vanjaar in die Kaap televisie-en-rolprentvervaardiging studeer, is vir die vakansie terug in die stad. Hy sê die skryf van die boek was vir hom ‘n hartsaak.
Meer as ‘n dekade al vermaak Hans Haas kindergehore.
“Vier jaar gelede het ek besluit om die storie te skryf van hoe die baba-
dieremaats van Haaslaagte ontmoet het. Daarmee saam kan ek talle waardevolle lewenslesse wat my na aan die hart lê, met die lesers deel.”
Hans Haas is meer as net ‘n kinderstorie – elke bladsy bied ‘n universele lewenswaarheid op sy eie. Xander het self die illustrasies gedoen.
Op 9 en 10 Julie om 17:30, en weer op 11 Julie om 13:30, bied Xander ‘n gratis voorlesing uit die boek Hans Haas aan.
Die boekbekendstelling en voorlesings vind ook in The Rabbit Studio by Jock Meiringstraat 20 plaas.







You must be logged in to post a comment.