Torings van Hoop betree ‘n nuwe begin met die uittrede van ds. De la Harpe le Roux.
In die 18 jaar van sy betrokkenheid sedert die oorgang van ‘n tradisionele Afrikaanse NG kerk na die vorming van Torings van Hoop, was dit vir hom een groot, wonderlike uitdaging.
Só sê De la Harpe oor die projek wat onder sy leiding sedert 2008 gegroei het en een van die bekende en waardevolle bedienings van Bloemfontein se middestad geword het.

Volgende lewenshoofstuk breek aan
Daar wag nou vir hom ‘n nuwe uitdaging wanneer hy in Januarie 2027 die bestuur oorneem van die Noord-Kaap se sinodale kantoor in Kimberley.
“Dit is ‘n jaar sedert ek en Agnieta getroud is. Ons het saam besluit dat hierdie vir ons ‘n nuwe begin gaan wees. ‘n Nuwe uitdaging,” sê hy.
De la Harpe sal waarskynlik nog tot die einde van die jaar voortgaan met sy werksaamhede as uitvoerende hoof van die NG Kerk in die Vrystaat se barmhartigheidsbediening, waar hy die afgelope drie jaar werksaam was.
“Dit is ironies dat ek die afgelope 19 jaar in Kommandant Senekalstraat gewoon het. Dit is net enkele huise van waar die pastorie was waar ons gesin gewoon het.”
Sy pa, ds. Thinus le Roux, was jare lank verbonde aan die Andrew Murray-gemeente in die stad. Sy kinders kon na dieselfde laer- en hoërskool gaan wat hy in sy jeug bygewoon het.

Sendingwerk-droom in grootwordstad uitgeleef
De la Harpe se tweede gemeente nadat hy agt jaar ‘n gemeente in KwaZulu-Natal bedien het, was by die NG kerk Fichardtkruin.
“Ek het nog my lewe lank ‘n hart gehad vir die randfigure in ons samelewing. Met my werk by Fichardtkruin het ek betrokke geraak by Bloemshelter, vir hawelose mans. Saans wanneer ek terugry van Bloemshelter huis toe, het ek verby die Tweetoringkerk gery.”
Hy vertel hy het gebid dat God vir hom ‘n deur oopmaak om met minderbevoorregtes te werk in daardie ruimte.
“As ek terugkyk, is dit vol verwondering oor hoe die Here my naïewe klein gebede geantwoord het,” vertel hy in Torings van Hoop se jaarverslag.
Dit was ds. Gideon van der Watt wat De la Harpe voorgestel het as koördineerder by die destydse Afrikaanse gemeente. Le Roux se droom van jongs af was om sendingwerk te doen, en dit het waar geword – hy sou heeltyds ‘n sendeling kon wees in die stad waar hy grootgeword het.
Leisels nou in bekende, bekwame hande
Sedert die formele begin van Torings van Hoop in 2010, is ‘n sterk en volhoubare welwillenheidsorganisasie gevestig. Die naam Torings van Hoop het verder as Bloemfontein gereik, en tot ver oor die grense van Suid-Afrika heen, danksy De la Harpe se betrokkenheid by Global Leadership Foundation, waarvan hy die Afrika-direkteur is.
Nou is daar ‘n nuwe begin met Andreas Nieuwoudt wat die leisels oorneem. Hy is reeds sedert 2009 as vrywilliger by Torings van Hoop betrokke en is dus geen vreemdeling vir die werk van die organisasie nie.
LEES OOK: Zimbabwiese vlugtelinge kry warm kos in Bloemfontein op roete noord
Nieuwoudt was sedert 2023 in die bediening van die NG kerk Ooshoek in Bloemspruit betrokke. De la Harpe en ds. Nico Mostert, Torings van Hoop se voorsitter van die raad, het hom einde 2025 genader om Torings se bediening oor te neem – hy het in Maart vanjaar reeds die bestuur oorgeneem.
Hy sê die organisasie sal voortgaan om vennootskappe met kerke en ander niewinsgewende organisasies te bou.
“Ons kan hierdie werk nie alleen doen nie. Ek glo Torings se personeel, trustees, skenkers, vriende, ondersteuners en vennote sal voortgaan om ‘n verskil te maak in die middestad se ruimtes waar die minderbevoorregtes, haweloses en migrante daagliks probeer om vir hulle ‘n lewe te bou.
“Saam met ander en met God se genade en leiding, sal ons volhou om ‘n verenigde front te vorm teen onmenslike armoede,” sê Nieuwoudt.




You must be logged in to post a comment.