Crestrio gee aan jong leerders vlerke.
Crestrio gee aan jong leerders vlerke.

Crestrio bied hoop vir jong kinders met leer-uitdagings

,

Augustus is Vrouemaand.

BloemNuusExpress het gaan inloer by ‘n paar jong vroue wat ‘n verskil maak in die gemeenskap.

Petro Rörich is ‘n jong onderwyser wat besef het daar is ‘n groot behoefte aan leerondersteuning vir kinders in die grondslagfase van laerskool.

Juffrou Petro Rörich wat die naskoolse sentrum Crestrio in Fichardtpark begin het. FOTO: Lientjie Mentz
Juffrou Petro Rörich wat die naskoolse sentrum Crestrio in Fichardtpark begin het. FOTO: Lientjie Mentz

Sy het Crestrio begin waar leerders van gr. 1 tot gr. 3 ná skool gehelp word met huiswerk en ook remediërende onderrig kan ontvang. Leerders met leerhindernisse word speel-speel geleer om hul uitdagings te oorkom.

Die middagstudiesentrum in Fichardpark fokus daarop om ontwikkelingsagterstande by kinders te identifiseer en dit op konstruktiewe en interaktiewe maniere te herstel. Aktiwiteite en beweging speel ‘n groot rol om kinders te help om beter te konsentreer.

“Ouers kom hier aan en is moedeloos omdat hul kinders nie vorder nie,” vertel Rörich.

“Ons fokus is op kinders wat sukkel om in die klas by te bly. Ons help hulle om op nuwe maniere dieselfde werk as wat hulle in die klas leer, te absorbeer,” verduidelik sy.

“Wanneer ‘n kind sukkel, is dit nie meer lekker om te leer nie. As ‘n mens vir hulle iets op dieselfde manier oor en oor probeer leer, raak hulle negatief en dit wek negatiewe emosies. Die kind se selfvertroue ly skade as hy iets nie regkry nie.”

Petro sê klasse by skole is groot en onderwysers kan nie altyd individuele aandag aan ‘n kind gee nie.

“Daarby werk baie ouers en hulle het nie altyd die tyd om rustig saam met ‘n kind huiswerk te doen totdat hy of sy iets verstaan nie.”

Sy sê daar is baie druk op kinders om by die besige pas van die lewe op skool te bly.

“Ons help kinders om hul aandagspan geleidelik te rek sodat hulle langer teenwoordig is en meer inligting kan inneem op ‘n slag. En ons leer hulle hoe om regtig te rus wanneer dit tyd is.”

Die skool het 13 na-skoolse leerders en twee wat nou by haar tuisonderrig ontvang. Die naam Crestrio, wat saamgestel is uit die Romeinse woord “Crestere” wat groei beteken, en “trios” wat dui op die drie dele wat holisties ontwikkel moet word om suksesvol te wees, naamlik fisiek, emosioneel en intellektueel.

Lees meer oor die sentrum op crestrio.co.za.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article