Alles het ‘n doel. So glo Bloemfonteiner Izani van der Wal (35) wat ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede ‘n breinoperasie ondergaan het.
Vir dié vrou was dit ‘n moeilike jaar vol aanpassings.
Izani vertel haar verhaal met ‘n musiekvideo van die lied Teater, geskryf deur musikant Petrus van Wyk. Met die lied vertel sy iets van haar verhaal van uitdagings, van depressie, van moedeloos wees en weer aangaan.
Sy vertel alles het ‘n jaar gelede begin met erge skeelhoofpyn. “Nadat ek een hele naweek in ‘n donker, stil kamer gelê het, is ek noodgevalle toe. Daarna het dinge vinnig gebeur.”
‘n Meningioom is in haar brein gevind – die gewas in die frontale lob van haar brein was nie kwaadaardig nie. Die gewas was reeds 5 cm groot. Op 26 Junie is die gewas in ‘n 10-uur-lange operasie verwyder.

Ná twee weke is sy uit die hospitaal ontslaan, min wetende wat op haar sou wag.
“Aanvanklik was ek erg klanksensitief. Twee weke nadat ek ontslaan is, het ek die eerste keer ‘n epileptiese aanval gekry.”
Die medikasie wat sy vir die epilepsie moet drink, het gelei tot depressie. “Ek drink elke dag 23 pille. My brein is beskadig en ek is met frontale lobsindroom gediagnoseer.” Dit lei tot emosionele en kognitiewe uitdagings.
Vir Izani het die afgelope jaar talle uitdagings ingehou. Sy het reeds tien epileptiese aanvalle gekry, waar haar bene net onder haar ingee. Haar medikasie moet deurlopend aangepas word. Ongeag die uitdagings, weet sy die genade wat sy ontvang het, is groot. “Ek het nader aan die Here gegroei. Ek het geleer hoe om weer op te staan wanneer ek moedeloos is.”
Ná die opname van Teater, kyk sy vorentoe. Sy glo musiek is vir haar ‘n manier om dinge in haar lewe te verstaan, en vir ander ‘n boodskap van hoop te bring.







You must be logged in to post a comment.