BLOEMFONTEIN – Suid-Afrika is ryk in grondstowwe en wat die natuur kan bied, maar die mense is arm. Vandag vier ons ‘n mylpaar wat gaan help om seuns vir ‘n toekoms in die landbou voor te berei sodat ons mense die vrug van ons land kan pluk.
So het die December Moloi, Motheo se Distriksdirekteur van die Vrystaatse Departement van Onderwys gesê tydens die opening van die Hoërskool Grey-kollege se nuwe landbou-gebou Grey Agri.

Die nuwe gebou en die geriewe wat hier ingerig word vir leerders wat die vak landbouingenieurswese neem, is op Donderdag 15 Oktober geopen.
Christof Vosloo, vakhoof vir landbouingenieurswese, sê die vak is verlede jaar vir die eerste keer aangebied met 30 van Grey se leerders wat die vak geneem het. Voordat die gebou by Grey-kollege voltooi is, het leerders van toerusting by die Hoër Tegniese Skool Louis Botha gebruik gemaak. Vanjaar het 45 nuwe gr. 10-leerders die vak landboutegnologie geneem en vir volgende jaar is daar 60 leerders wat met die vak in gr. 10 gaan begin.
Die gebou sal ook gebruik word vir die vak ingenieursgrafika en ontwerp (IGO).

Verteenwoordigers van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Grey geloof. Prof. Paul Oberholzer, dekaan van die departement Natuur- en Landbouwetenskappe het die UV se hulpbronne aangebied om leerders se onderrig verder uit te brei. Ook Elsmarie Oosthuizen het haar stem gevoeg by Prof. Oberholzer en gesê hulle help graag om leerders praktiese geleenthede te gee op die UV se proefplaas.

Moloi het op die geleentheid gesê landbouonderrig berei jongmense voor om by te dra tot voedselsekuriteit en berei jongmense voor om later boere, entrepreneurs, wetenskaplikes en landbouleiers te word. “Hierdie geriewe is nie net vir vandag se leerders nie; dit is ook vir hulle wat oor 20 jaar of 100 jaar hier gaan leer.”
LEES OOK: Nuwe skoolhoof vir die Hoërskool Grey-kollege aangekondig.
Die gebou, wat deur Bloemfonteinse argitek Reinier Brönn ontwerp is, het ‘n werkswinkel op die grondverdieping en klaskamers op die eerste verdieping.
Borgskappe deur onder meer Beefmaster en Silostrat het bygedra tot die oprigting van Grey Agri.





You must be logged in to post a comment.