BLOEMFONTEIN – ‘n Njala-ooi het vroeg op Woensdag 17 Junie ‘n uitstappie buite die grense van die Franklin-natuurreservaat in die stad onderneem.
Gelukkig is die ooi kort daarna deur die Mangaung-metro gevang en teruggeneem na die reservaat op Naval Hill.
Andri Grobbelaar, voorsitter van die Friends of Franklin, sê dit gebeur soms dat wild van die reservaat iewers uitkom.

“Ons vra inwoners wie se huise aan die reservaat grens en toegangshekke het, om seker te maak dat hulle dié hekke te alle tye toe hou om te verhoed dat die wild uitkom. Veral in die wintermaande word die diere gelok deur vetplante in nabure tuine.”
Sy sê die Manaung-metro se parke-afdeling is bewus daarvan dat daar op seker plekke skade aan die grensheining is. “Ons vra die publiek om gevalle waar hulle gate in die reservaat se heinings sien, aan te meld by die amptenare.”
“Ons vra mooi dat inwoners in aangrensende woonbuurte soos Waverley, Bayswater en Arboretum help om die reservaat se diere veilig te hou,” sê Grobbelaar.
Die Franklin-reservaat is een van slegs vier in die wêreld wat binne ‘n stad geleë is.
Diere wat ontsnap en gate in die heinings kan aangemeld word by 072 928 8427 of 072 271 5353.







You must be logged in to post a comment.