Die verhaal van Alice Dee Janse van Rensburg, wie se ouers haar probeer afsmeer aan die skatryk dog baie vervelige Japie, sal oud en jonk vermaak in The Rabbit Studio se vertoning Alice in Wonderland, a musical comedy.

Tydens Alice en Japie se ontmoeting, sien Alice ‘n haas in klere en besluit om dit te volg tot in ‘n gat wat lei na die ongelooflike en surrealistiese “Wonderland”. Hier ontmoet sy allerhande wesens, insluitende ‘n pratende deur, ‘n ruspe wat borreltjies blaas, ‘n blom met gehoorprobleme en ‘n mal hoedemaker. Hierdie gedroggies vertel haar van die nare Queen of Hearts, Megan, wat Wonderland wil oorneem deur almal in hegtenis te neem en hul land te vat.

Alice in Wonderland.
Groep 1 van Alice in Wonderland is van links, voor: Skyla van der Merwe (Queen of Hearts), Eugene le Roux (Ace), Eden Ehlers (Rabbit) en Paul van den Blink (Gatiep); agter: Angelo and Alejandro Dangwa (Three and Two), Liané de Swardt (Alice) en Kevin Stone (Mad Hatter). FOTO: Lientjie Mentz

Hul enigste hoop is Alice, wie bestem is om Queen Megan se groot en gevaarlike troeteldier (die Malemawalkie) te verslaan met die hulp van die legendariese swaard van Trump. Sal Alice Wonderland kan red, of gaan Queen Megan die heerser word?

Die stuk is gebaseer op die boek “Alice’s Adventures in Wonderland” deur Lewis Carrol, en is aangepas vir die verhoog deur Xander Steyn, met veranderings gemaak deur Jené Heymans en C.W. Laten.

Heymans en Laten wat die bestuur van die Rabbit Studio tydelik oorgeneem het terwyl Steyn in Kaapstad studeer, neem die regie van die stuk waar. Die hoofvertoning kos R100 en die vertonings vind op: Donderdag 11 Junie om 19:00, 12 Junie om 19:00 en Saterdag 13 Junie om 15:00 en weer om 18:00 plaas. Die vertoning vir die kindergroepe vind van 5 Junie tot 7 Junie plaas. Besoek rabbithouse.co.za/events vir besonderhede en kaartjies.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article