Bloemfontein het die afgelope tyd iets gesien wat ‘n mens nie maklik vergeet nie. Aan die een kant was daar ‘n familie wat moes groet. Aan die ander kant was daar families wat weer asem kon haal.
Dis die vreemde, amper heilige spanning van orgaanskenking.
Die diep verlies wat terselfdertyd nuwe lewe moontlik maak.
‘n Jong man se lewe het onverwags geëindig, maar sy laaste daad op aarde het gewys dat grootsheid nie altyd in titels, geld of bekendheid lê nie.
Soms lê dit in ‘n hospitaalgang, tussen trane of in die besluit van ‘n familie, wat te midde van ondenkbare pyn, kies om ander mense nog ‘n kans te gee.
Dis is kosbaar hoe hierdie verhaal die idee van nalatenskap verander.
Ons dink dikwels ‘n nalatenskap is iets wat op ‘n gebou geskryf word of in geskiedenisboeke opgeteken word, maar dalk is die grootste nalatenskap eenvoudig dat iemand anders vandag leef omdat jy bereid was om te gee.
Daar is iets besonders mooi daaraan dat ‘n mens selfs ná jou laaste asem nog diensbaar kan wees en dat jou einde vir iemand anders ‘n begin kan word.
‘n Hart wat ophou klop, maar steeds hoop laat voortleef.
Oë wat sluit, maar ander mense weer die toekoms laat sien.
Ons leef in ‘n tyd waar mense dikwels vra wat hul doel op aarde is.
Miskien lê deel van die antwoord daarin om te verstaan dat ons hier is om mekaar te dien, nie net in die groot oomblikke nie, maar ook in die moeilike besluite wat ander mense se lewens kan verander.
‘n Mens se lewe word nie gemeet aan hoe lank jy hier was nie, maar aan hoeveel lewe jy in ander mense kon los toe jy gegaan het.
– Francois Terblanche is ‘n Bloemfonteinse skrywer.






