Ses verdagtes is in Oranjesig in hegtenis geneem nadat hulle elektriese kabels gesteel het.
Lt. kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê vier verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 36 jaar is Vrydag 15 Mei om 03:30 in Krausestraat in Oranjesig in hegtenis geneem. Hulle het na bewering Centlec-infrastruktuur oorhoofse elektriese kabels afgetrek en infrastruktuur beskadig.
Dinsdag 19 Mei is nog twee mans (33 en 36) in Kolbelaan in Fichardpark in hegtenis geneem.
Jacques Meiring, bestuurder van die Fichardpark-woonbuurtvereniging (FWA), sê Bloemsec het die oggend om 01:07 op die FICH-Net radio gewaarsku dat verdagtes in Krausestraat kragkabels aftrek. FWA se veiligheidsbestuurder, Senforce en Securiforce het na die omgewing uitgegaan. Die verdagtes het egter reeds gevlug.
Kort daarna is twee verdagtes in Kolbelaan raakgesien wat kabels aftrek. Die veiligheidsondernemings en Centlec se gewapende beamptes het na die toneel gegaan en twee verdagtes vasgetrek.
Die Parkweg-polisie is ontbied en het die twee verdagtes in hegtenis geneem. Tange, skêre en ander toerusting is as bewysstukke geneem. Volgens die polisie is kabels ter waarde van nagenoeg R37 719 gesteel.
Die polisie ondersoek ‘n saak van diefstal en die beskadiging van infrastruktuur.




