Sandra Prinsloo in Die ander dogter.
Sandra Prinsloo in Die ander dogter. FOTO: Fiona MacPherson

Aangrypende toneelstuk oortref verwagting

,

Verhale wat temas van versorging, verlies en verbondenheid bied, het ‘n besonderse vermoë om tot gehore te spreek.

Die Vrystaat Kunstefees bring met ‘n vol program ‘n groot verskeidenheid van hierdie temas in Julie vanjaar na Bloemfontein.

Een voorbeeld hiervan is die eenvroustuk Die ander dogter, met die bekroonde Sandra Prinsloo. Hierin word die invloed van geheime in ‘n gesin oopgevlek.

Dit is geskoei op die biografiese verhaal van die Franse skrywer en Nobelpryswenner Annie Ernaux, The Other Girl, of L’Autre fille (2011). Die vertaling is deur Naómi Morgan gedoen, met die verwerking deur Saartjie Botha. Die regisseur is Lara Foot.

Sandra sê met die eerste lees van Ernaux se teks het sy gewonder hoe dit in ‘n teaterstuk omskep gaan word.

“Ek weet nie eens of dit werklik teater is, en of dit nie dalk net kuns is nie,” sê sy.

“Tog, met Ernaux se manier van skryf en haar diepte van persepsie kon ek dit nie neersit nie. Ek het dit in een sitting klaar gelees.”

Sandra sê dit was ‘n lang pad tot op die verhoog.

“Ek het Naómi se pragtige vertaling aan Saartjie gestuur en sy het gesê dit kan beslis as teaterstuk werk.”

Sandra was steeds bekommerd.

“Niks gebeur werklik in die stuk nie. Dit is net die vrou se reaksie op wat met haar gebeur het. Tog is dit een van die wonderlikste reise van ontdekking van teks waarmee ek tot nog toe gewerk het.”

Sy sê die stuk is nie ooglopend emosioneel nie, maar daar is wel diepliggende emosies.

“Dit is soos lig en skaduwee wat kom en gaan. Hierdie vrou probeer iets verstaan waaroor haar ouers nooit gepraat het nie. Sy het die skokontdekking, dat sy ‘n suster gehad het wat voor haar geboorte dood is, op 10-jarige ouderdom gemaak.”

Sandra sê om hieraan te werk het enorme vreugde en frustrasie gebring.

“As iemand so groot skryf, dan lê dit nie in die oppervlak nie. Om alles te verstaan het tyd gevat, die dieper versluierde goed.”

Volgens haar reageer vroue en mans ná die toneelstuk dikwels soos: Waar het ek as ouer te kort gekom? Mense het ook na afloop van die vertonings op die Stellenbosch Woordfees aan haar kom vertel: “Ek het ‘n soortgelyke situasie gehad,” of “Ek het wel nie ‘n broer of suster aan die dood afgestaan nie, maar ek het gevoel asof ek in een van hulle se skaduwee gelewe het. My broer of suster was die goue kalf.”

Ma’s vind beslis aanklank by die vertoning.

Vir Sandra, wat reeds die rol goed ingeleef het, bring die teaterstuk ‘n boodskap: Moet nooit vir jou kinders lieg nie.

“Nie oor sulke groot dinge nie. Praat met hulle oor alles sodat daar nie ‘n skaduwee oor hulle lewe hang nie.”

Sy sien uit na die kunstefees, waarop Die ander dogter op 7, 8, 9 en 11 Julie in die ATKV-Wynand Moutonteater opgevoer gaan word. Kaartjies kos nou R220, en later kos dit R250 en is beskikbaar op die webblad vrystaatkunstefees.co.za.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article