BLOEMFONTEIN – Vreemde dinge kan op ‘n Dinsdag gebeur. Karakters uit ‘n storieboek kan die skrywer en sy gesin verwelkom en saam met hom sy 300ste boek vier.
Die Bloemfonteinse kinderboekskrywer Jaco Jacobs het so ‘n ondervinding op Dinsdag 5 Mei by die Pretty Gardens-leefstylsentrum gehad toe Beverley Steynberg van Books@Bloem saam met die uitgewers van Pan Macmillan ‘n sprokies-aand vir hom gereël het.

Daar is groot tussen Helené Coetzee en Miemie du Plessis van Pan Macmillan, Beverley en Jaco se vrou, Elize, gekonkel om die geleentheid vir hom geheim te hou.
“Trek mooi aan,” het Elize vir hom dié Dinsdag gesê oor die uitstappie om hom “‘n bietjie te bederf”.
“Seker nie langbroekmooi nie,” het hy gevra.
“Langbroekmooi,” het sy volgehou.
Jaco was baie verbaas toe hy, Elize, en sy dogters, Emma en Mia, by die sentrum aankom.

Die eerste wat hy gesien het, is drie glinsterende blou balle met goue sterre. Die twee kabouters Neels en Jans met hulle raaisels, die seun wat nie hou van lees nie, Barto, die Boekmeisie en selfs ouma Rosa en haar vriendinne het hom daar begroet.
Jaco het sy 300ste boek, Vreemde dinge kan op ‘n Dinsdag gebeur, opgedra aan Miemie, wat al die afgelope 25 jaar sy uitgewer is.
Hy sê dit het toevallig so uitgewerk dat hy nou 300 boeke uitgegee het en ook al 25 jaar saam met Miemie ‘n pad stap – eers by Lapa-uitgewers en sedert 2019 by Pan Macmillan.

Miemie kon nie die geleentheid bywoon nie, maar het vir die unieke geleentheid ‘n keramiekbeeld deur Lucinda Bosch laat maak wat Helené namens Pan Macmillan aan Jaco oorhandig het.
In die 25 jaar dat Jaco kinderboeke skryf, is al meer as 2 miljoen van sy boeke verkoop, en hy spog met meer as 46 eerbewyse vir die puik boeke wat hy lewer.
Beverley het op die geleentheid gesê dit is spesiaal om Jaco op so ‘n manier te vereer omdat hy so baie doen vir die Afrikaanse taal en vir kinders. Die kinders van die Laerskool Universitas (Tjokkies) wat met danse en musiek kleur aan die geleentheid verleen het en wat ywerig as karakters uit die boek toneelgespeel het, het Jaco se aand onvergeetlik gemaak.

Helené het al die pad uit die Kaap gekom om aan Jaco ‘n spesiale hardebandkopie van die boek te oorhandig.
“Wat gee ‘n mens vir iemand wat sy 300ste boek uitgee? ,” het Helené op die geleentheid gesê.
“Ons wou vir jou iets vreemds op ‘n Dinsdag doen, en wat is nou vreemder as trompoppies en trolle by Pretty Gardens?”
Jaco sê dit is vir hom ‘n eer om boeke te maak.
“Om iets van die wonder van stories met julle te deel. Van daardie oomblik waarin jy jou in ‘n storie verloor.”
Die boek gaan oor die wonder van lees.
LEES OOK: Kinders wys twee van Jaco Jacobs se boeke as bestes aan
- Twee lesers staan die kans om elk ‘n kopie van Vreemde dinge kan op ‘n Dinsdag gebeur te wen. Besoek BloemNuusExpress se Facebookblad, like en volg die blad en skryf in comments wat is jou gunsteling-boek wat Jaco Jacobs geskryf het.






You must be logged in to post a comment.