Die meeste mense kan glad nie split nie, maar ‘n gr. 7-leerling van die stad het pas die Guiness-wêreldrekord vir mans opgestel vir die meeste splits binne een minuut.
Chaz Wilson van die Laerskool Universitas (Tjokkies) het verlede week gehoor dat sy 47 splits binne 1 minuut vir mans genoeg was om aan hom die wêreldrekord te besorg.
Sy ma, Ariena, sê die hele gedagte om te kyk of hy ‘n Guiness-rekord kan opstel, het begin toe hy en sy niggie Charlene Wolf videos gekyk het. Die twee het afgekom op ‘n video van Liberty Barros wat in 2004 die rekord vir vroue opgestel het. Sy het 42 splits binne ‘n minuut uitgevoer.

“Chaz het dadelik gesê hy wil dit ook doen en ons het begin navorsing doen oor hoe dit werk om te registreer vir ‘n Guiness-wêreldrekord,” sê Ariena. “Ons het in Desember 2024 met die proses begin. Die enigste vereiste was dat Chaz meer as 30 splits moet doen.”
Chaz is baie soepel en split sommer vir pret. Op 15 Oktober verlede jaar was alles in plek en sy gr. 6-klas was by en tydhouers gereed vir die groot poging in Tjokkies se skoolsaal.
Vir die rekordpoging het Chaz 47 splits voltooi. Min het hy geweet dat ‘n ander man ‘n maand vroeër in September ook so ‘n poging aangewend het.
“Ons het eers onlangs uitgevind van die ander man se poging,” vertel Ariena. “Gelukkig vir ons het die man slegs 46 splits gedoen, wat Chaz se rekord laat staan.”
Nadat Chaz begin het met sy wêreldrekordpoging, het hy begin met aerobiese dansie. Ariena sê hy het homself leer split en kan ook ander bewegings uitvoer. Hy het intussen begin om by Dance Domination te dans.
Chaz sê hy is baie opgewonde om dié wêreldrekord te kon opstel. “As iemand dit verbeter, sal ek probeer om nog meer splits te doen. Ek wil graag nog ‘n rekord opstel, maar ons kyk nog wat dit gaan wees,” het hy aan BloemNuusExpress gesê.







You must be logged in to post a comment.